Mar 13

Hoe om ouer boeties en sussies voor te berei op die koms van ‘n nuwe baba

Elke ouer onthou die tyd toe hulle hul eerste baba huistoe gebring het. Daar was opgewondenheid, vreugde, en dalk selfs vrese en bekommernisse oor hoe om aan te pas tot die lewe met ‘n baba in die huis of oor hoe om alleen na hulle om te sien. Elke gedagte en elke oorweging het om daardie een baba gedraai, wat al jou liefde en aandag geniet het. Maar, wanneer ‘n tweede baba sy of haar opwagting maak, is dinge ietwat anders.

Die vrese van ouerskap en om op jou eie na jou baba om te sien is dalk minder as die eerste keer, maar nou is daar reeds ‘n ouer kind in die huis wat ook oorweeg moet word. Maak nie saak hoe oud jou oudste is nie, hy of sy het steeds ook hul eie individuele behoeftes en begeertes, nie net fisies nie, maar ook emosioneel. Onthou, vir baie lank was hy of sy die enigste kind in die huis, wat al die aandag en liefde geniet het wat jy gehad het om te gee, en nou moet hulle nie net hul huis met ‘n totale vreemdeling deel nie, maar ook die harte van hul ouer/s. Dit kan ook nogal oorweldigend wees vir ‘n jong verstand om te verstaan wat ‘n swangerskap is en wat dit oor die langtermyn gaan beteken, maar gelukkig lê daar ‘n volle 9 maande voor om hulle te kan voorberei op wat kom.

Hier is ‘n paar voorstelle oor hoe om hulle voor te berei op die koms van ‘n nuwe baba, wat veral op toepassing sal wees op ouer kinders wat al ‘n beter begrip het van die lewe om hulle:

Vertel hulle so vroeg as moontlik van die swangerskap

Vir verstaanbare redes dat ‘n swangerskap in die eerste 3 maande as hoë risiko vir verlies geag word, wil mens nie onmiddelik vir almal die goeie nuus gee nie, veral vir ouer kinders in die gesin. Dit is moeilik genoeg om te verstaan dat daar ‘n baba in Mamma se maag groei, en nog moeiliker om skielik te moet verduidelik dat daai baba skielik nou weg is, sou daar dalk iets gebeur en die swangerskap kom tot ‘n einde.

So gou as wat jy gemaklik voel om vir jou ouer kind te vertel van die swangerskap, hetsy dit is na die eerste 3 maande verby is of na die eerste besoek aan die dokter, deel die nuus gerus met hulle. Probeer om nie te lank te wag nie, want hoe langer jy wag, hoe minder tyd bly daar oor om hulle voor te berei. 40 weke voel dalk soos ‘n ewigheid, maar dit vlieg eintlik in ‘n oogwink verby!

Praat gereeld oor die baba en wat hul verwagtinge is

Moet dit nie die begin, middel en einde van elke dag maak nie, en maak seker dat dit nie lyk of jy eerder oor die baba as oor jou oudste wil praat nie, maar spandeer genoeg tyd om oor die baba te praat en wat jou oudste kan verwag wanneer die baba eers hier is.

Vra hom of haar vrae om uit te vind wat hul verwagtinge en persepsies is, en spandeer genoeg tyd op elkeen van daardie verwagtinge (natuurlik nie alles op een dag nie) om hul voor te berei op wat die werklikheid eintlik gaan wees.

Baie jonger kinders is aanvanklik baie opgewonde om te hoor hulle kry ‘n boetie of sussie, maar hulle begryp nie altyd onmiddelik wat dit beteken nie. Hulle verwag dalk ‘n klein kleuter wat dadelik kan hardloop en speel, en is nie voorbereid op die feit dat hulle piepklein gebore word en vir die eerste paar maande basies net eet en slaap, en dat dit ‘n lang ruk gaan neem vir die baba om te groei tot die maatjie wat hulle so graag wil hê nie.

Hulle het ook ‘n idee van wat hulle vir hulself kan doen en verstaan nie dat babas nog nie al daai goed ook vir hulself kan doen en dat hulle baie aandag en hulp nodig het nie. Vir sommige van hulle kan dit selfs ‘n skok wees om uit te vind dat babas nie self die toilet kan gebruik nie en dat alles in ‘n doek gebeur wat gereeld geruil moet word.

Om hulle op feite soos die voor te berei sal hulle help om hulle eie verwagtinge te beheer en en selfs help om sommige teleurstellings te beperk wanneer baba eers hier is.

Deel jou swangerskap

Betrek jou ouer kind so veel as moontlik by die swangeskap sodat hulle ingesluit kan voel by die nuwe lewe wat besig is om te groei en ontwikkel. Wys vir hom of haar sonar foto’s, neem videos van die sonars om agterna te wys, of vat hom/haar saam na ‘n paar afsprake toe indien moontlik.

Wanneer die baba se bewegings duidelik gevoel kan word, laat hom of haar jou maag voel. Die beweging sal hulle ook help om tot ‘n beter besef te kom dat daar ‘n klein mensie daar binne groei.

Dink aan ‘n prettige manier vir jou kind om die geslag van die baba uit te vind. Daar is hope idees aanlyn wat oulik en pret kan wees!

Deur betrokke te voel sal hulle ook meer gemaklik en opgewonde voel oor die nuweling wat een van die dae kom.

Verseker jou oudste konstant daarvan dat hy of sy vir jou nog net so belangrik soos altyd is.

Dit is baie belangrik vir ouer kinders om te weet, selfs nog voordat baba kom, hulle nog net so belangrik as wat hulle was voordat daar ooit sprake van ‘n nuwe baba was. Maak seker hulle weet dit maak nie saak wat gebeur nie of hoe dol ‘n dag raak nie, as hulle jou nodig het, sal jy ook daar wees om in hulle behoeftes te voorsien, net soos die nuwe baba s’n.

Betrek jou oudste by die voorbereidings vir die nuwe baba

Nuwe babas vereis baie voorbereiding in terme van die aankoop van alles wat hulle nodig het, die voorbereiding van die baba kamer, ensovoorts. Dit is die ideale geleentheid om jou oudste se insette the vra of om hulle te laat help om items soos kombersies, speelgoed en klere te laat kies. Dit sal hulle laat voel of hulle opinies ook saakmaak en dat hulle ‘n werklike bydrae gelewer het.

Babas is duur en ons weet finansies trek maar noustrop in vandag se tyd, maar waar dit moontlik is, probeer om hier en daar ‘n nuwe aankoop vir jou oudste ook te maak, sodat hy of sy nie afgeskeep voel nie.

Berei jou oudste voor op wat om te verwag wanneer die baba eers by die huis is

Ons as volwassenes weet dat babas huil wanneer hulle iets nodig het, hetsy dit ‘n voeding is in die dag of nag, ‘n skoon doek, of net wanneer hulle bietjie liefde nodig het.

Ouer kinders mag dalk nie so voorbereid wees op hierdie feit, of dat dit hulle kan wakker maak in die nag nie. Ook mag hulle dalk glad nie die redes vir die gehuil verstaan nie.

Spandeer genoeg tyd om jou kind voor te berei op wat die daaglikse roetine min of meer gaan wees wanneer die baba eers by die huis is, sodat hy of sy ook kan weet wat om te verwag. Net soos ons daarvan hou om te weet wat om te verwag, wil hulle ook graag weet en nie onkant gevang word nie.

Nadat die baba gekom het

Wanneer die baba hier is en huistoe kom, hou steeds jou ouer kind betrokke sodat hul nie uitgesluit of alleen voel nie. Laat hul help met klein takies soos om hand by te sit met badtyd of om klere ensovoorts aan te gee.

Nie net vorm ons as volwassenes ‘n hegte band met ons babas as ons hulle vashou nie, dieselfde gebeur wanneer ouer kinders hulle vashou. As hulle wil, moedig hulle aan om met jou hulp die baba vas te hou en so tyd saam met die baba te spandeer. Moedig hom of haar aan om vir die baba te sing, rympies op te sê of stories te vertel.

Meeste van alles, maak seker jy maak genoeg tyd elke dag om alleen en kwaliteit tyd saam met jou ouer kind te spandeer dat hulle steeds weet jy het hulle nog net so baie lief en dat hulle vir jou nog net so belangrik is as voor daar ‘n boetie of sussie in die prentjie was.

Afrikaans

KOEKIESBELEID

We use cookies so that you may have a better online experience with us.

To view our cookie policy click here.

Please note that by viewing our website, you accept our use of cookies.