Deur Dr Martie Conradie, MBChB (UP), Diploma in Child Health (SA)
Ek het al so gereeld hierdie vraag gevra en is seker jy het al ook.
Die maklike antwoord sou gewees het om te sê: “nee, ‘n kind se inname deur kos is genoeg”, maar deesdae is die antwoord nie meer so eenvoudig nie. Daar is verskeie redes wat kan veroorsaak dat jou kind se dieet nie meer voldoende is nie en in baie gevalle kan kinders werklik baat deur die gebruik van vitamienaanvullings.
Waarom is vitamienaanvullings partykeer nodig?
Oor die algemeen is aanvullings nie nodig vir kinders wat ‘n gesonde en gebalanseerde dieet volg nie. Maar daar is baie om te oorweeg voor mens met sekerheid kan sê dat jou kinders in hierdie “gesonde en gebalanseerde” kategorie val. Ek probeer my bes, maar party dae gaan verby waarin dit regtig net té moeilik was om my kinders te oortuig om hul groente eerder as snye brood te eet of hulle knibbel die hele tyd aan kos wat nie voedingsryk is nie en wil dan niks weet van aandete nie.
My eerlike opinie is dat elke ouer hul kind se maaltye moet prioritiseer en moet seker maak dat dit gebalanseerd en vol voedsame kos is. Lekkergoed en ongesonde peuselhappies moet ook uitgesny word. As almal dit kan doen, gaan dit nie net die probleem van vitamientekorte uitsny nie, maar dit gaan ook ‘n ongelooflike impak hê op kinders se vermoëns om te fokus.
Maar, aangesien baie mense se leefstyl nie gaan verander nie, kan kinders baie baat deur die neem van ‘n multivitamien.
Wanneer is ‘n aanvulling meer nodig?
Babatjies wat borsvoed kort partykeer vitamien D en ‘n ysteraanvulling, maar dit moet bespreek word met ‘n dokter.
Ander kinders wat veral sal baatvind by ‘n additionele multivitamien is:
- Kinders wat nie gesonde etes kry wat vars en ‘n verskeidenheid van kosse bevat nie
- Kieskeurige eters of kindertjies wat net glad nie genoeg eet nie
- Kinders met kroniese probleme soos asma of HIV – in hierdie gevalle is dit wel belangrik om by ‘n dokter te hoor wat aanbeveel word.
- Kinders wat gereeld verwerkte voedsel of kitskosse eet.
- Kinders wat spesifieke diëte volg, soos suiwelvrye diëte (kalsiumaanvullings mag nodig wees) of vegatariese diëte (ysteraanvullings mag nodig wees).
- Kinders wat gereeld gaskoeldrank drink – dit kan lei tot die onttrek van vitamiene en minerale uit ‘n liggaam.
- Kinders met probleme soos depressie of autisme omdat dit kan lei tot kieskeurigheid of ‘n swak eetlus.
Belangrike vitamiene en minerale vir kinders
Kinders moet in alle opsigte gesond wees vir hulle lyfies om energie af te kan staan vir ontwikkeling en groei.
Elke vitamien speel ‘n belangrike rol in funksies van die liggaam and multivitamiene bevat gewoonlik ‘n kombinasie van die volgende:
Vitamien A: hierdie vitamien bevorder groei en ontwikkeling sowel as gesonde oë en vel. Bronne hiervan sluit melk, kaas, eiers en wortels in. Dit is belangrik om te weet dat vitamien A vetoplosbaar is en daarom in die liggaam gestoor kan word. ‘n Oordosis kan daarom lei to ernstige probleme en indien dit as ‘n aanvulling gegee word, moet dit geneem word volgens ‘n dokter se instruksies
B vitamiene: daar is ‘n aantal vitamiene in hierdie groep en hulle help met metabolisme, die senustelsel en produksie van energie. Goeie bonne sluit vis, neute, boontjies, vleis en melk in.
Vitamien C: dit is bekend as ‘n antioksidant en kan selfs die tyd van herstel na ‘n virale infeksie soos verkoue, korter maak. Bronne sluit bessies, sitrus vrugte, kiwivrug en tamaties in. Al is daar verskeie vrugte en groente wat in die verskillende seisoene beskikbaar is wat ryk is aan vitamien C kan mens baat deur dit aan te vul met ‘n multivitamien, veral in die verkoueseisoen.
Vitamien D en kalsium: hierdie twee werk saam. Hulle is nodig vir beenontwikkeling, veral in kinders. Die beste bron van vitamien D is sonlig. Kalsium kom veral voor in melkprodukte.
Yster: dit is nodig vir normale rooibloedsel produksie en vir die bou van spier. ‘n Ystertekort is ‘n risiko in babatjies van omtrent 6 maande oud wat geborsvoed is en tienermeisies wat begin menstrueer. Bronne sluit rooivleis, spinasie en pruime in.
Sink: dit is nodig vir breinontwikkeling en bevorder genesing van membrane soos dié van die keel na ‘n verkoue of dié van die derm na ‘n episode van diaree.
Daar word navorsing gedoen om te sien watter effek omegasure kan hê op kinders met kondisies soos aandagafleibaarheid of hoe dit konsentrasie oor die algemeen kan verbeter en daar is baie ander aanvullings op die mark. Dit is partykeer oorweldigend om deur ‘n apteek se rakke te loop en te sien wat al die moontlikhede is. Vir “gespesialiseerde” aanvullings, word dit aangeraai om ‘n dokter te sien om te bespreek watter aanvullings jou kind van sal baat.
‘n Paar dinge om van bewus te wees
Om vitamiene te neem, moet verkieslik nie ‘n slegte ervaring vir ‘n kind wees nie. Leer kinders hoekom dit nodig is.
Probeer om nie vitamiene “lekkergoed” te noem nie. Klein kindertjies mag dalk net ‘n geleentheid sien om ‘n hele bottel “gummies” op te eet. Indien dit gebeur, bel dadelik die dokter om te hoor wat om te doen.
“Gummy” vitamiene en ook van die ander soorte kan suiker bevat. Dit moet daarom verkieslik nie voor bedtyd gegee word nie en kan ook tussen tande vassit, so tandsorg is baie belangrik.
Vitamiene is belangrik vir jou kind se ontwikkeling en ‘n aanvulling kan verseker dat klein lyfies genoeg het, veral as jy bekommerd is oor jou kind se dieet. Maar moet nooit dat aanvullings ‘n gesonde dieet vervang nie. Mag jy jou kinders kan gee wat hulle lyfies nodig het, of dit nou deur hul dieet is of met ‘n bietjie hulp van ‘n multivitamien af.
Comments are closed.