Daar was onlangs ‘n paar hartseer stories in die media oor kinders wat verdrink het, selfs ouer kinders wat kon swem. Dit maak mens van voor af bewus van die groot gevaar wat water inhou – ongeag van ouderdom, ervaring of toestand (see, swembad, reën of sonskym).
Daar is grotendeels twee opsies swemskole. Een, die tradisionele swemskool waar kinders swem saam met ‘n ouer leer swem, en soos hulle vorder, swem hulle later saam met ‘n afrigter en dan daarna alleen. Sodat kinders nie ‘n vrees vir water ontwikkel nie, word daar word geen druk op hulle geplaas nie. Alles word teen ‘n rustige pas gedoen, met behulp van rympies en liedjies. Dit begin deur borrels te blaas in die water en dan deur die water te beweeg. Wanneer hulle die water gewoond is sal hulle hul kop onder die water sit en dan in die swembad spring – alles onder die toesig van ‘n afrigter wat saam met hulle in die water is. Soos wat hulle vorder begin hulle op hulle eie swem. Dit is ‘n tydsame proses en is ook afhankilk van hoe gemaklik die kleinding in water is.
Die tweede opsie is “water safety” lesse. Van ons skrik dadelik en dink dit is waar hulle die kinders in die water gooi en hulle moet net swem! Die program is afkomstig van Amerika en die hoofdoel is om kinders se lewe te red sou hulle in ‘n ongewenste situaise beland. Die tydperk vir hierdie program is aansienlik korter – so ses tot twaalf weke. Kinders word van vroeg af geleer om onder die water te gaan en dan om te draai en op hul rug te dryf. Sou dit ooit nodig wees, wat hopelik nooit is nie, sal hulle kan dryf totdat iemand hulle kom red. Die model kan as meer aggresief beskryf word in vergelyking met tradisionele swemlesse, maar gereelde lesse gee kinders ook meer selfvertroue in die water en begin hulle so ‘n liefde vir swem ontwikkel. Kinders van ses maande oud kan begin met hierdie lesse. Aan die einde van die program word kinders, ten volle geklee, in die water getoets om te kyk of hulle ‘n soortgelyke situasie sal oorleef.
Elke kind se voorkeur sal verskil – persoonlikheid, liefde vir water en waaghalsigheid sal bepaal watter opsie die beste vir jou kind sal werk. Maak nie saak watter opsie mens kies nie, dit kan net voordelig wees. Meeste swemskole is gekant teen hulpmiddels wat ‘n kind vals sekuriteit gee dat hulle kan swem. Byvoorbeeld: sou ‘n kind gewoond wees daaraan om met vlerkies te swem en hulle kom by ‘n swembad aan, alleen en sonder vlerkies, is dit maklik vir hulle om te dink ‘ek kan mos swem’ en sodoenende ‘n gevaarlike kans te waag. Hulpmiddels soos vlerkies gee vir ouers gerustheid en party voel dit help kinders met selfvertroue in die swembad. Die voordele moet dus oorweeg en bespreek word met kinders wat bietjie ouer is en kan verstaan.
Swembadnette, -seile en heinings is die eerste vorm van verdediging. Sou kinders buite of êrens nuut te speel sonder toesig, sal ‘n swembad wat ordentlik toegemaak en omhein is, tragiese gebeure verhoed. Mens raak gemaklik en dink altyd dit gaan nooit met ons gebeur nie – maar ‘n ongeluk gebeur baie vinnig.
Partytjies en groot groepe wat saam swem hou ook ‘n groot risiko in. Alhoewel jou kinders kan swem en ouers reg rondom die swembad sit, gebeur dit dat iemand net vir daai oomblik jou aandag aflei. Kinders skop dalk mekaar of spring en speel en besef nie die swaker swemmertjie word onder die water ingedruk nie. Maak seker alle kinders wat by julle kom kuier kan swem. Vra die ouers en moet nie net die kinders se woord daarvoor aanvaar nie. Daar moet ten alle tye toesig wees wanneer kinders swem, jonk of oud, maak nie saak hoe vlak die water is nie. Skoolkampe gaan daar wees, maak seker jou kind ken sy vermoëns en dat hulle nie skaam hoef te wees as hy of sy wil uitsit langs die swembad of rivier nie.
Vertel vir kinders van die diep- en vlakkant. Maak hulle bewus van gladde oppervlaktes en trappies. Nie net by julle huis nie maar enige plek met water. Swembaddens, visdamme en fonteine – nuuskierige kinders sal op vreemde plekke swem wanneer hulle die geleentheid kry. Leer hulle van die natuur – die see se strome en golwe, hoe sterk riviere is en dat damme dieper en meer gevaarlik is as wat hulle oogies kan sien. Mens hoef hulle nie bang te maak nie maar definintief bewus van water.
Volgende keer wanneer familie of vriende vra wat kan hulle vir jou kind gee met Kersfees of verjaarsdae – noem swemlesse as ‘n opsie. Die nuwe tendens om ‘n ondervinding te gee eerder as nog speelgoed op die rak is besig om vinnig te groei.
Kom ons skerp die water veiligheidsmaatreëls op om die beste te maak van die sonskyn dae!
Artikel deur Zanje Kromhout
Comments are closed.