Met vandag se tegnologie moet ons slim keuses maak wanneer ons kies waarna ons kinders kyk en hoe gereeld hulle aan skerms blootgestel word. Die Wêreld Gesondheids Organisasie (WHO) het sopas ‘gaming’ as ‘n verslawende toestand geklassifiseer.
Sommige ouers is baie opgewonde wanneer die kinders saam TV- of rekenaarspeletjies begin speel, want dit beteken dat tekenprente opsygeskuif word en dat daar meer tyd is vir speletjies! Maar hierdie onskuldige speletjies kan ernstige nagevolge dra. Geweldadige speletjies kan kinders ontstel, verkeerde, aggressiewe gedrag navore bring, om nie eers te praat van nagmerries nie. Kinders leer deur ons voorbeeld. Ek het onlangs ‘n prentjie gesien van ‘n mamma wat ‘n ander vrou vra hoe op aarde sy haar kinders kry om te lees… die een mamma het ‘n boek vasgehou en die ander een ‘n selfoon – kan jy raai wie is wie?
Die lewe is gejaag, tyd is min en dit is skrikwekkend om te sien hoe baie mense op hul fone is as hulle bestuur of saam met die gesin ‘familietyd’ het. Mens se foon is gelukkig altyd naby om mylpale en mooi herinneringe vas te vang, maar soms dink ek kinders begin selfone sien as ‘n aangroeisel aan ons arms. Ek wys geen vingers nie, ek is self skuldig hieraan. Ek wil begin om sosiale media te gebruik om ‘n positiewe invloed op my lewe te hê. Ek gaan eerder opbouende mense se bladsye volg, mense wat jou passie in die lewe op vlam en inspireer, jou laat goed voel oor jouself. Verwyder al die glans persoonlikhede of ‘influencers’ wat jou dalk minderwaardig laat voel of daai ‘perfekte’ mamma wat eintlik net skuldgevoelens opwakker. Ek wil probeer om meer doelbewus my foon te gebruik deur die dag – net noodsaaklike boodskappe, oproepe en e-posse wat nie kán wag nie. Skeduleer ‘n tydjie uit vir doellose ‘scrolling’ as dit jou help om te ontspan. Hierdie vakansie wil ek meer goed doen en soveel kwaliteit tyd saam met my geliefdes spandeer dat ek vergeet om na my foon én sosiale media te kyk.
Aanlyn gevare en kuberboelies is ‘n nagmerrie op sy eie. As ouers moet ons onself bemagtig met die nodige kennis van wat daar buite aangaan in die groot tegnologiese orbitaal. Daar is apps wat ouers kan help om die nodige veiligheidsmaatreëls in plek te stel om kinders te beskerm. Sommige apps wys al die versteekte apps uit en blok ook sekere funksies op ‘n foon. Mens kry ook ‘n kindervriendelike weergawe van Google wat al die inligting vooraf filter en net sekere goed kan nagevors word.
Stel vas wat vir julle huishouding toelaatbaar is wanneer dit kom by skerms – of dit die televisie, selfone, rekenaars, tablette of videospeletjies is. Sommige families het kontrakte waar die reëls duidelik uiteensit word rondom die gebruik van hierdie toestelle. Sulke kontrakte los geen spasie vir verwarring nie en skakel onnodige rusie uit. Daar kan ook “belonings” uitgedeel word in die vorm van minute, waar elektroniese toestelle as beloning gebruik mag word. ‘n Goeie idee is dalk om die minute te verdeel in produktiewe skermtyd – spandeer byvoorbeeld 20 minute op Purple Mash en daarna 10 minute op sosiale media of speletjies (onproduktiewe tyd). Tegnologie is hier om te bly en dit groei teen ‘n ongelooflike spoed – ons moet seker maak ons het die nodige kennis van hierdie nuwe tegnologiese voorspronge vir die veiligheid van ons kinders.
Comments are closed.