Hierdie ‘meme’ het onlangs die rondte gedoen op sosiale media, rondom Ma wees in 2019 en dit het my baie laat dink…
Daar is soveel fasette van vrou wees – ma, dogter, vriendin, kollega, suster en beminde om ‘n paar te noem. Dit alleen klink uitputtend, né? Dan is daar nog skoolvergaderings, oefen, gebalanseerde dieet (wat kinders eet), skoonheidsroetines wat ons wil volg, huishouding bestuur, troeteldiere versorg, familie en skoonfamilie en, en, en…
Ek glo ons as vrouens kan alles doen en nog wonderlik lyk terwyl ons besig is daarmee. Maar (daar is altyd ‘n maar), ons sit enorme druk op onsself! Sosiale media is defnintief olie op die vuur – ons sien ander mammas in hul oefenklere, in ontwerpers pakkies, perfek gestilleer met die nuutste (en duurste) bykomstighede én nie ‘n plooi in sig nie. Die foto’s van kinderpartytjies wat meer elegant is as jou troue… Mens kan amper nie help om skuldig te voel oor jou verbleikde sweetpak wat effens styf sit en die hasie partytjiepakkies wat jy met liefde self gemaak het nie.
Ons worstel met ons beroepe – bly ek tuis om my eie kinders groot te maak of werk ek sodat ek voel ek beteken iets in die wêreld? Baie keer sê mense “jy het te hard geswot of gewerk om net by die huis te bly”. Ander vra weer hoe jy jou kinders so klein skool toe stuur en dan nogals voldag ook?
‘Mommy guilt’ is daar en dan kom jou selfbeeld ook nog ter sprake. “Hoekom is my maag nie so plat na 2 kinders nie? My vel is vaal en my hare is vervelig! Waar kry vrouens tyd vir naels doen en geld vir ‘micro needeling’?”
Op die vakansiedag raak ek toe stil en begin dink aan alles wat vrouens kan doen en alreeds vermag het. Ek dink aan elke liewe wonderlike sterk vrou in my lewe en die struikelblokke wat hulle al moes oorkom het. Ek begin dink aan alles wat ek reg doen as vrou, ma, suster en vriendin. Dit alles maak my dankbaar en geliefd voel! Dit maak my ook skaam dat ek myself meet aan sulke oppervlakkige dinge en vergeet hoe kosbaar die lewe is!
Die glimlaggies op my kinders, man en familie se gesigte is al wat ek nodig het. Vir hulle is ek beeldskoon (ou sweetpak of te nie). Hulle ken my binneste, my hart en my intensies!
So kom ons komplimeteer mekaar, sien die goeie raak, wees lief vir onsself en vir mekaar!
Kom ons vier die wonderlike wese van vrouwees!
Groete,
Zanjé Kromhout
Comments are closed.