Sep 25

Veiligheid – kinders en karre

deur Zanjé Kromhout

Die onlangse gebeure rondom kleine Amy’Leigh se ontvoering het ons land geruk. Daardie Maandagaand het ek wakker gelê en gewonder wat ek sou doen en hoe elke minuut vir haar ouers moes voel soos ‘n leeftyd. Of dit ontvoering is vir ‘n losprys, mensehandel of ‘n motorkaping, ouers met kinders moet almal paraat wees.

Die punt is nie om ouers die skrik op die lyf te jaag nie, maar ek is alte bewus van hoe my kop elders is terwyl ek kleingoed aflaai, inkopies doen of in ‘n winkelsentrum rondhol op soek na pom-poms vir die volgende dag se kunsprojek by die skool. Tussendeur onderhandel jy met jou kinders dat dit NIE ‘n goeie idee is om al die lekkergoed op die rak te koop nie… Gevolglik vergeet mens soms heeltemal dat gevaar dalk net om die hoek skuil.

Ek het dus self begin kyk na wat ek kan doen om seker te maak my kinders is veilig, en eerste aan die beurt is kar veiligheid.

Karstoeltjies

Mense ry onverskillig, ongelukke gebeur en almal van ons maak soms foute. Die minste wat ons as ouers kan doen is om seker te maak ons kinders is so veilig as moontlik wanneer ons die pad aandurf.

Sommige kinders kan vreeslik keel opsit wanneer hulle in hul stoeltjies vasgemaak moet word. Hulle wil dalk voor sit en hoekom moet hulle dan nou vasgemaak word as mamma en pappa nie dit doen nie? Wees dus ‘n voorbeeld en doen die regte ding. Dra jou veiligheidsgordel, kry stoeltjies en gebruik hulle reg. Die wet vereis boonop dat alle kinders onder 3 jaar in ‘n toepaslike karstoeltjie vasgemaak word. Dit kan die verskil tussen die lewe en die dood beteken.

Indien jy nie ‘n karstoeltjie kan bekostig nie, is daar ‘n hele paar organisasies wat tweedehandse stoeltjies bymekaar maak, skoonmaak en dan teen ‘n verlaagde prys weer aan die publiek verkoop en in sommige gevalle selfs skenk. Doen gerus ‘n bietjie navorsing aanlyn. Sommige handelaars sal ook hand bysit met die installasie van jou babastoeltjie.

Ek klink soos die ‘n regte ou knorpot maar ons as ouers moet beheer neem oor hierdie saak. So, volg die stoeltjies se gebruiksaanwysings en kry kar reëls wat almal by moet hou. Sodra die wiele rol en paar liedjies is hard op gesing is het almal al vrede gemaak met waar hulle sit.

Kapings

Daar is uiteenlopende opinies oor waar die regte plek is om die karstoeltjie te sit – reg agter die bestuurder? Aan die ander kant? En wat gemaak as jy meer as een kind het.’n Paramedikus het onlangs genoem dat in die geval van ‘n motorkaping sal die volgende die beste sal wees:

Plaas die ouer kind wat homself kan los maak, reg agter die bestuurder. Sodra iets gebeur kan hy homself los maak en jy hoef nie heeltemal weg te draai met van die gevaar af nie. Dit mag die kapers dalk laat negatief reageer.

Plaas die jonger kind skuins agter die bestuurder. Die bestuurder kan dus agter toe leun en die stoeltjie los sonder om jou rug te draai op die rowers.

Sou hulle jou beveel om geensins om te draai nie of hande alle tye te hou waar hulle dit kan sien, kan jy die ouer kind instruksies gee om homself en dan die ander kinders los te maak en reg agter die bestuurder se stoel op die vloer te gaan sit. Dit help dat as jy uitklim dat jy dadelik die deur kan oopmaak en hulle saam jou kan uithaal sonder om om die voertuig nog te hoef te beweeg.

Maak seker jy gee nooit die sleutel van jou motor vir die rowers terwyl jou kinders nog in die kar is nie. Die paramedikus stel voor dat jy hard en duidelik praat wanneer jy aan die rowers verduidelik wat jy besig is om te doen om jou kinders uit die kar te haal.. Probeer so kalm as moontlik bly vir jou kinders se onthalwe. Mens verwag nooit dat so iets met jou kan gebeur nie, maar speel die scenario in jou eie kop af en dink aan hoe jy sou optree. Die kenners reken jy sal beter reageer in ‘n nare situasie as jy ‘n “game plan” het.

“Baba in die kar” – ja of nee?

Daar is twee opinies rondom die “Baby on board” teken agter in die kar. Party mense reken dit verkondig aan die hele wêreld dat jy met kinders rondry en ander sê weer dit help die nooddienste om op ‘n ongelukstoneel op die uitkyk te wees vir kinders. As jou kinders enige mediese kondisies of allergië het maak seker dit is aangedui op ‘n maklike sigbare plek op hulle stoeltjies. Sit byvoorbeeld ‘n naam plaatjie met al die besonderhede op die stoetjie se gordel vas.

Algemeen

Verdonkerde vensters of skadu venster kouse wat die son uit blok kan help dat almal nie presies sien wie en wat in jou kar aangaan nie. Sluit die kar se deure dadelik en leer dit ook vir die kinders as die kar nie automaties sluit nie.

Plaas jou foon en enige ander sakke of kosbare besittings in die kattebak van die voertuig, waar niemand dit kan sien nie. Moenie in die versoeking kom om by robotte gou te loer na die Whatsapp wat deurgekom het nie – dit vertraag nie net jou bestuursvermoëns nie maar maak jou ook ‘n maklike teiken. Wees paraat en bêre daai foon.

Parkeer binne die skool met die op- of aflaai van kinders, indien moontlik. As daar nie plek is nie, vat ‘n paar ekstra minute en wag vir nader parkeer plek om oop te gaan. Vra die skool om tydens spitstye ‘n sekuriteits maatskappy te laat patrolleer by die ingang van skole. Maak seker niemand agtervolg jou huis toe nie en verander elke nou en dan jou roetes.

As jy by jou huis aan kom parkeer parallel in die straat terwyl die hek oop gaan – dit verseker dat jy die hele straat kan dop hou en geen ander kar jou kan vas parkeer nie. As jul hek nie automaties is nie, bel iemand wat reeds tuis is om die hek oop te maak sodra jul daar aan kom, dan hoef niemand uit te klim in die straat nie.

Dit klink dalk oorweldigend en glo my ek wil geen vrees by my kinders aanwakker nie, maar ons as ouers kan slimmer optree en stilletjies meer proaktief wees.

Later kyk ons na veiligheid by winkels, speel areas en publieke plekke.

Wees veilig

English

Cookies Policy

We use cookies so that you may have a better online experience with us.

To view our cookie policy click here.

Please note that by viewing our website, you accept our use of cookies.