deur Zanjé Kromhout
5 Oktober is Wêreld Onderwysersdag. Die afgelope week het hierdie gedagtes deur my kop geflits nadat ek my kleinding opgelaai het:
- Hoekom het niemand sy gesiggie afgevee na ete nie?
- Het hul vir hom sonbrandroom aan gesmeer voor die klas buite gaan speel het?
- Hoekom beloon Juffrou hulle heeltyd met lekkers?
- Wat is haar dissipline-styl?
- Sien Juffrou as iemand geboelie of seer gemaak word?
- En en en…
Ek is egter nie trots hierop nie, en toe ek begin dink aan “Waardeer jou Juffrou-dag” en hoe ons juffrouens kan vier – het ek met ‘n groot skok besef ons moet hulle eintlik élke dag prys en eer en koffie voor aandra… baie stérk koffie! Ek besef toe ook dat my (baie hoë) verwagtinge van juffrou nooit vir my sal werk nie. Ek het maar net twee kinders by die huis en kom beswaarlik by alles uit. Boonop is kleuters se willetjies sterk, koppies vol planne is en uitdagend. En dan is daar nog baie van hulle ook!
Die feit dat juffrouens elke oggend die kinders liefdevol groet, kans sien vir kunswerkies waar verf betrokke is en potty training ook nog deursien, laat my mond eintlik oophang. Ek het al gehoor hul sê onderwys is eintlik ‘n roeping en eerlikwaar, as ek dink aan 10-20 4-jariges in een kamer wil ek vir die berge hardloop! Juffrou verdien daagliks ‘n medalje!
Eendag gee ons vir juffrou se klasassistent ‘n rygeleentheid huis toe en ons gesels oor die bekkige goed wat kinders kwytraak. Sy begin toe vertel van haar seuntjie wat presies dieselfde ouderdom is en wat hy als vir sy ouma vertel. Toe dring dit tot my deur: hier is sy besig om 5 dae ‘n week na ons kindertjies om te sien en haar eie seuntjies is so ver. Ek weet party mense/ tradisies/ kulture verkies dit dat ouma omsien na die kleinkinders en die ouers voorsien vir die familie maar ek kon nie help om hartseer te voel daaroor nie en ook vreeslik dankbaar te wees terselfdertyd nie. Juffrouens het ook hul eie kinders en moet na ‘n lang dag nog huis toe gaan en hulle eie gesinne ook gaan lief hê. Dis maar net een van die baie redes hoekom ons so dankbaar moet wees vir die wonderlike mense wat vir ons kinders ‘n veilige hawe skep om te ontwikkel.
Volgende keer as die rapport huis toe kom en hul kommentaar is nie heeltemal wat jy wou hoor nie of jy word ingeroep om sekere gedrag te bespreek, gesels rustig met juffrou daaroor en gee haar ‘n kans – hulle spandeer ure saam ons kinders en is immers kenners op die gebied. Meeste van ons is blind vir ons eie kinders se foute en juffrouens moet ouers se nukke ook nog hanteer.
Kom ons wys die jaar opregte waardeering aan elke liewe personeellid by die skool wat waarde toevoeg tot ons kinders se lewens. Dit hoef nie duur te wees nie, maar dink bietjie daaroor…hoe kan ons die lewe vir hulle help makliker maak?
Hier is ‘n paar idees vir geskenkies:
- ‘n Geskenkbewys – vir kruideniersware, klere of vir ‘n salon vir ‘n bietjie bederf. Vra dalk of ‘n paar ouers van die klas nie wil bydra nie en dan kan dit groot bederf wees.
- As jy dalk bak of kook, maak ekstra – ek glo enige ma waardeer ‘n tuisgemaakte ete wat in die vrieskas wag vir noodgevalle of vars beskuit wat honger gate kan vul terwyl sy nog moet kook in die aande.
- As klas kan jul ‘n gesinsfotosessie present gee by ‘n profesionele fotograaf. Mens spandeer nie maklik geld op so iets nie maar dis kosbare herinneringe.
- Bespreek skoonmaak dienste om haar huis skoon te maak of gee ‘n voucher daarvoor.
- ‘n Styl-konsultant kan ook help om juffrou se klerekas op te helder en paar persoonlike wenke te gee , wat ‘n wonderlike geskenk kan wees wat aanhou gee.
- Fliek- of teaterkaartjies is altyd ‘n lekker uitstappie.
Aan alle Juffrounes daar buite – baie BAIE dankie! Julle word opreg waardeer!
Comments are closed.