Sep 25

Veiligheid in winkels, speelareas en publieke plekke

deur Zanjé Kromhout

As ouer is my grootste begeerte om ons kinders gelukkig te sien, dat hul veilig is en om groot te word as “lekker” en goeie mense. Daar is vir my ook niks mooier as kinders se onskuld en hulle hartjies wat in oorvloed, sonder enige vrae glo en vertrou in die goedheid van die wêreld nie. 

Mens moet so versigtig wees om daai onskuld en vertrou te koester. Deesdae sê ons so maklik, “Pasop! Sluit die deur” of “Nee kom hier, hulle gaan jou steel”. Ons moet ons woorde versigtig kies en nie losweg gebruik nie sodat ons kleintjies nie die êrens van die saak vergeet nie.

Ongelukkig moet ons as ouers in Suid-Afrika proaktief optree rondom ons kinders se veiligheid. Met ‘n paar maatreëls en riglyne hoef uitstappies nie ‘n stresvolle situasie te wees nie.

1. Met ouer kinders kan mens vir hulle gevare verduidelik, sonder om vrees aan te blaas, maar eerder feitelik te wees. Gebruik eenvoudige woorde en verwys gepaste scenarios wat kan lei na gevaarlike situasies. Moenie dit oorkompliseer nie. Hou dit eenvoudig- “less is more”.

2. Trek hulle helder aan! Dit sal help dat hulle maklik uitstaan tussen ‘n see van ander woelige kinders en jou oog hul vinnig kan vang. Ek hou sommer ‘n paar helder groot t-hempies in die kar en soos dit nodig is trek dit net bo-oor hul kleertjies aan. 

3. As julle by ‘n plek aankom, soek ‘n tafel so na as moontlik aan die speelarea sodat jy jou kinders kan dophou. Sodra julle daar aankom, wys vir hulle merkers uit sodat hulle jul tafel kan opspoor. “Mamma sit reg onder die groot hamburger op die bord, reg langs die ballone”. Wys ook vir hulle ‘n baken wat hul nie mag verby gaan sonder dat jy saam gaan nie, byvoorbeeld die ingang na die res van die restaurant of die speelterrein se buitehekkie. Moenie jou peuter onderskat nie, hulle verstaan meer as wat ons dink. 

4. Verduidelik ook met die intreeslag, soos wat julle sit, dat almal moet kom inloer by die tafel op ‘n gereelde basis en kom sê sou hulle enige plek heen wou gaan anders as die speelplek of die tafel! Verduidelik ook dat niemand alleen badkamer toe gaan nie. Die hele gesin kan sommer saam badkamer toe gaan as julle daar aankom – dit verhoed dat iemand later alleen af dwaal toilet toe! Ek glo mense verstaan en sal begrip hê as boetie saam met mamma en sussie in die badkamer is. 

5. Meeste plekke het deesdae kinderoppasers en ouers moet hulle eie diskresie gebruik rondom die gebruik van hulle. Probeer dalk die tyd sien as kwaliteit tyd saam met die kinders en staan nader aan die speelterrein en speel saam!

As die kos kom kan almal saam gaan eet of ouers kan mekaar aflos en beurte maak. Sê vir hulle dat hul nêrens mag gaan saam met vreemde mense of nuwe maatjies nie, probeer dit ook doen sonder om hulle bang te praat. 

4. Solank as wat almal nog in die winkel se trollie kan inpas, laai hulle in! Klein babatjies kan in ‘n drasak of “carrier” gedra word eerder as drabare karstoeltjie of stootwaentjie. Nie net sal dit vinniger gaan nie maar sal ook help om te keer dat almal iets van die rakke afgryp. Vrugte is by sommige winkels beskikbaar by die ingang vir kinders om te geniet terwyl mens koop en dit help om die kinders bietjie besig te hou. 

6. In die parkeerarea moet mens vinnig wees. Besluit vooraf wat jou plan van aksie is en verduidelik dit ook aan die kinders. Persoonlik laai ek eerste die kinders in en gordel hulle vas, waarna ek hulle deure sluit en dan vinnig die pakkies agter in die kar laai. Ek voel dan is hulle “uit die oog” en almal veilig op een plek. Sommige mense sal redeneer dat hul vas is in die kar en ver van jou af is, sou iemand jou in die parkering vaskeer… Hoe dit ookal sy, gebruik jou eie oordeel en kry almal veilig in die kar.

7. Kinders moet veilig voel by hulle skool. ‘n Veilige skoolomgewing laat ouers ook toe om met gemoedsrus te gaan werk en produktief te wees. Kies ‘n veilig plek by die skool waar jy hulle kry – dit moet agter die heinig wees en nie afgeleë van die naskool personeel nie. Die bankie binne die skool paar meter van die hek byvoorbeeld is voldoende en jy kan instap en hulle gaan haal. Kommunikeer ook met die skool as jy gaan laat wees om hulle op te laai en laat hulle binne kan weg saam die naskool kinders. 

8. Daar is GPS horlosies beskikbaar op die mark vir kinders wat defnitief kan help met die veiligheid en gemoedsrus van ouers.  Kinders met fone en tablette moet ook versigtig wees om dit in die publiek te gebruik omdat dit hulle ‘n maklike teiken maak vir rowers. 

9. Ons kinders moet te alle tye weet dat ons as ouers of voogde hulle veilige hawe is! Maak nie saak wat nie! Of hulle verkeerd opgetree en hierdie nalatigheid tot die gevaarlike situasie gelei het of nie. Dis uiters belangrik dat kinders sal besef dat hulle na hul ouers kan gaan wanneer sulke dinge gebeur.

10. Laastens, as ons almal kan probeer om ons kinders groot te maak om goedhartige mense te wees wat mekaar opbou en verryk kan die toekom net blink lyk vir ons kinders, kleinkinders en ons land! 

Wees versigtig en maak julle veiligheid ‘n prioriteit maar geniet ook die tyd saam jou kinders! 

English

Cookies Policy

We use cookies so that you may have a better online experience with us.

To view our cookie policy click here.

Please note that by viewing our website, you accept our use of cookies.