Almal is pynlik bewus van die ekonomiese druk – veral hierdie tyd van die jaar. Mens spandeer altyd ‘n bietjie meer, daardie 13de tjek of Kersfeesbonus maak dit tog so maklik! Salarisse word in meeste gevalle ‘n bietjie vroeër betaal, wat handig te pas kom met vakansietyd, maar dit kan so maklik ‘n illusie van kitsrykdom skep. Dan kom Januarie – die langste maand in die jaar, maerder as die 7 maer jare in die Bybel en droeër as die Sahara. Nuwe skoolklere en skryfbehoeftes ruk mens weer terug na realiteit: back to school – back to reality – back to broke.
Elke jaar belowe ek dat dit nooit weer sal gebeur nie, maar kom Januarie dan sit ek weer in dieselfde bootjie. Duidelik kort my finansiëlevermoens ‘n bietjie skaafwerk – en ek glo vas dit is omdat ek nooit sakgeld as kind gekry het nie. Ek moet tog iemand blameer, nie waar nie? As kind was dit ideaal, ek kon meestal my ouers se arm draai deur aanhoudend te skimp vir die nuutste speeding of modegier. Vandag wens ek dit was anders! Sou dit my dalk geleer het om geld beter te bestee, te spaar of eenvoudig net die waarde van geld te verstaan? As grootmens besef ek eers hoe hard my ouers moes werk om daardie onnodige goed wat ek so graag as kind wou hê, te bekostig. Mens het nie werklik die nuutste modes en populêre handelsmerke nodig nie.
Vandag se kinders is anders – hulle word aan baie meer goed blootgestel te danke aan die nuutste tegnologie en sosiale media. Ja, mens wil graag alles vir jou kind gee, maar iewers moet mens die krane toedraai sodat jou kind die waarde van geld besef. Hoe anders as sakgeld?
Wanneer ons aankope doen gebruik ons selde nog kontantnote of muntstukke. Kaarttransaksies of aanlynaankope is soveel makliker, maar dit beteken dat kinders nie kan hoe geld uit hul beursie ‘verdwyn’ nie. Is sakgeld ooit nog ‘n opsie?
Kundiges sê dat kinders so jonk soos 4 jaar kan al begin leer van geld en op die ouderdom van 6 kan hulle al suksesvol sakgeld bemeester. Daar word ook uitgewys hoe vroeër ‘n mens kinders begin leer van geld hoe meer voordele hou dit vir hulle in. Voordele sluit ondermeer beplanning, die opstel van begrotings, selfbeheersing, goeie werksetiek en aanspreeklikheid in.
‘n Paar basiese beginsels:
Wees ‘n goeie voorbeeld
Kinders leer deur te doen. Deel met jou kleinding jou denkproses voordat jy geld uitgee. Verduidelik aan hulle waarna jy kyk – mens moet prys, kwaliteit en hoeveelheid vergelyk. Weeg pryse hardop teen mekaar op terwyl julle kruideniersware koop. Laat jou kind raai wat ‘n item sal kos voordat julle dit in die mandjie laai, so leer hulle wat goed eintlik kos. Maak ‘n lysie van wat julle alles moet koop, hou daarby en merk dit af soos julle inkopies doen. Verduidelik aan jou kind watter uitgawes julle elke maand aangaan, sodat hulle kan leer wat beplande uitgawes (verblyf, brandstof, kos, rekeninge) is en wat onbeplande uitgawes, soos medisyne of ‘n gebreekte ruit, is. Maak dit duidelik wat is noodsaaklik en wat is ‘lekker om te hê’ items.
Sakgeld of nie sakgeld
Ons onlangse Facebook poll het aangedui dat die meeste ouers verkies om vir hul kleinding sakgeld te gee. Die gebruik van sakgeld leer verantwoordelikheid, motivering en selfdissipline. Sommige ouers voel dat wanneer jy jou kind betaal om takies in en om die huis te doen, jy hulle leer om dit te sien as ‘n straf en nie iets wat deel moet wees van jou daaglikse lewe nie. Ander voel weer sulke take leer kinders om te werk vir hul geld en trots te wees op hulle hard werk. Beloon jou kind met ‘buitengewone’ take soos die motor was, gras sny of troeteldiere bad. Ouers kan ouer kinders help om ‘n begroting op te trek en na maandelikse uitgawes (die snoepwinkel, swemlesse of spaar) te kyk en só saam op ‘n bedrag besluit. Doen wat vir jou huishouding werk – ‘n klein bedrag geld leer nogsteeds waardevolle lesse.
Spaarvarkie
Spaarvarkies help dat jonger kinders fisies kan sien hoe hulle geld groei, soos wat die varkie al swaarder en voller word. Die gebruik van ‘n deurskynende varkie of glashouer word aangeraai. ‘n Mens kan selfs ‘n tydlyn aan die varkie se lewe koppel, byvoorbeeld: ons spaar in die varkie tot en met die Desember vakansie of tot jou verjaarsdag. Dit is altyd ‘n goeie idee om te spaar vir ‘n doel, dit maak ‘n mens bietjie meer pligsgetrou om ‘n maandelikse bydrae te maak. As jou kind nie gespaar het vir iets spesifiek soos ‘n fiets nie, kan jy hom altyd die opsie gee om die geld eerder in ‘n spaarrekening te sit en so addisionele rente te verdien.
Die 1 dag reël
Leer kinders om ‘n dag te wag voordat hulle iets koop. Alhoewel hulle op daardie spesifieke oomblik doodseker is dat dit is wat hulle wil hê, kan ‘n bietjie tyd wel perspektief bring. Gaan huis toe, help om hule spaargeld te tel en uit te werk hoeveel sal oor wees indien hulle die item sou koop. Wat is die implikasie van die aankope? Dan sal hulle self kan besluit of dit die moeitewerd is en hoe graag hulle dit regtig wil hê. Probeer egter om hulle net te lei – dit is wel hulle geldjies.
Comments are closed.