Oct 04

Roetine vir jou kind: nuttige wenke

Roetine is ’n noodsaaklike deel van kinders se lewens omdat dit hulle help om veilig en standvastig te voel terwyl hulle selfvertroue ontwikkel.

In ’n artikel op die webtuiste education.com beskryf Lisa Medoff die belangrikheid van ’n gesonde roetine in die ontwikkeling van jou jong kind. Volgens Medoff verstaan jong kinders nie altyd die begrip van tyd nie en dus orden hulle nie vanself hul lewens volgens ure en minute nie, maar eerder volgens gebeurtenisse.

Wanneer hierdie gebeurtenisse op dieselfde tyd elke dag plaasvind, skep dit ’n gevoel van standvastigheid by jou kinders omdat hulle weet wat om te verwag en voorbereid is op dit wat voorlê. As jong kinders weet wat om te verwag, kweek dit selfvertroue en begin hulle van vroeg af al verantwoordelikheid neem vir take.

Dit is egter nie altyd maklik om ’n vaste roetine in jou gesinslewe te handhaaf nie. Hierdie vier wenke kan die taak vergemaklik:

  1. Beplan ten minste een maaltyd per dag wat die hele gesin saam kan geniet. Dit hoef nie noodwendig aandete te wees nie – ’n ontbyt waar almal saam hul dag bespreek en bekommernisse deel, kan net so doeltreffend wees. Dit is ’n goeie idee om die televisie en selfone tydens die maaltyd af te skakel. Dit is ook ’n gulde geleentheid vir kinders om roetine aan te leer en verantwoordelikheid vir klein takies te aanvaar.
  2. Stel ’n slaaptydritueel in. Só ’n ritueel help kinders om af te skakel en rustig te raak voordat hul gaan slaap en kan ’n storie, sagte musiek of ’n warm bad wees. Maak seker dat jy hierdie ritueel altyd in dieselfde volgorde uitvoer. Vra tydens die ritueel vir jou kinders hoe hulle dag was. Hierdie oefening help om hul geheue te versterk en om hul dag te oriënteer.
  3. Maak voorbereidingstyd deel van die roetine. Herinner jou kinders so 10-minute voor die tyd aan die aandritueel sodat hulle kan voorberei en gereed wees daarvoor.
  4. Hoewel roetine baie belangrik vir jong kinders is, moet jy nie rigied wees nie. Kinders moet ook leer hoe om klein veranderings in hul roetine te hanteer. As daar dus ’n verandering in die gewone roetine is, sê vir jou kind: “Ek weet ons doen dit gewoonlik so, maar vandag doen ons dit anders (om welke rede) en ons sal môre weer die normale doen.” As die grootste deel van hul dag voorspelbaar is, sal jong kinders klein veranderinge kan hanteer, veral as jy ook kalm in die situasie optree.

Bron: Solidariteit Tydskrif

English

Cookies Policy

We use cookies so that you may have a better online experience with us.

To view our cookie policy click here.

Please note that by viewing our website, you accept our use of cookies.