May 07

‘n Spesiale Moedersdag

Die laaste paar weke se denke en dade het gedraai om COVID-19 en die inperking. Nou is dit gelig na Vlak 4 en die meeste mense het verandering of ‘n tipe terugkeer na “normaal” verwag. Behalwe vir wintersklere koop, ‘n stappie vroegoggend en wegneemetes wat afgelewer mag word, bly die meeste dinge maar dieselfde…

Behalwe die rol van ma’s (of enige primêre versorger in die huis) natuurlik!

In hierdie tydperk het ons soveel meer empatie met mekaar en die verskillende rolle van ma wees. Ons weet nou definitief wat tuisbly mamma’s op ‘n daaglikse basis doen – koffie afsprake en middagslapies is glad nie deel daarvan nie. Ons kry nog meer respek vir werkende ma’s, wat nou die pot aan die kook hou en alles by die huis seepglad laat verloop. Die rolle het vermeerder van mamma, kok, versorger, verpleester en beste maat, na juffrou, speelterapeut en sport afrigter.

Almal se omstandighede lyk anders. Sommige salarisse is gesny, ander is vasgekeer in klein spasies en met opgehoopte energie. Ander bekommer weer oor tuisonderrig en akademie. Sommige ma’s moet terug werk toe en skole bly gesluit. Hare en naels wat uitgroei en ‘n verlange na vriende en familie is ook geldige stressors.

Vir elke ma of moederfiguur is daar soveel meer respek, bewondering en liefde.

Idees om die spesiale vrouens in ons lewens te bederf hierdie jaar:

1. Iets met so min as moontlik skottelgoed en skoonmaak.

Tuisgekookte maaltye met ‘n bietjie liefde is altyd spesiaal… behalwe as mamma altyd die opwas, afvee en skoonmaak van die kombuis moet behartig! Hou ‘n lekker piekniek buite (of binne in die herfs weer). Braai ‘n vleisie met haar gunsteling bykosse. Of makliker nog – bestel ‘n wegneemete, wat sy kan kies.

2. Gee haar die dag af!

Min mamma’s sal dit erken en sal juis op hierdie spesiale dag tyd saam met die kinders wil spandeer, maar gee haar ‘n blaaskans. Alleentyd is ‘n skaarse luuksheid die laaste maand (en inkopies alleen tel nie).

Bring vir haar koffie of ontbyt in die bed, laat die kinders haar oorrompel met liefde en blommetjies… maar gee haar daarna die opsie van ‘n lang warm bad of die geleentheid om alleen buite te gaan stap in stilte. Beter nog vat die kinders vir ‘n stappie en gun haar nog ‘n rukkie in die bed. Probeer dit deur die loop van die dag weer herhaal– ‘n rustige koppie koffie op die stoep terwyl iemand anders die kinders bad of die bed sit. Dit is verbasend wat so bietjie vrye tyd en ‘n breuk van die allerdaagse aan ‘n mamma se gemoed kan doen en haar battery weer kan herlaai vir die komende weke.

3. Hou dit eenvoudig

Daar is al baie kuns aktiwiteite gedoen oor die inperkingstyd en daar sal nog vele meer wees, as julle ‘n handgemaakte kaartjie wil maak, hou dit eenvoudig. Die yskas kreun seker al onder al die geverfde meesterstukke en mamma hol weg as sy net daaraan dink dat sy weereens die blinkers moet opvee. Sê vir haar eerder hierdie jaar hoe julle oor haar voel. Noem hoe dankbaar julle is vir haar en hoe baie julle haar waardeer. Noem al die dinge op wat haar spesiaal maak, wat sy alles vir julle doen en hoekom julle lief is vir haar. Neem dit op sodat sy weer daarna kan kyk wanneer die dae ‘n bietjie te lank raak.

4. Geskenk idees:

Groot geskenke is iets wat kan oorstaan die jaar – meeste huise se finansies is onder geweldige druk en dit kan lei na spanning of skuldgevoelens vir mamma wat ‘n geskenk ontvang. Die winkels beperk mens ook tans tot wintersklere of kos en is dalk is dit nie iets wat mamma nodig het nie. Sjokolade is altyd welkom! Of koffie! Of ‘n glas wyn (as julle nog so gelukkig is)!

Tyd is besonders kosbaar, so gee dit vir haar as ‘n geskenk – vryf haar voete of bou saam met haar ‘n legkaart. Wat wil sy al heel maand doen maar het net nog nie tyd daarvoor gehad nie? Help haar om dit te laat gebeur deur dit saam met haar te doen. (As dit is om die kombuiskaste skoon te maak, hou dit liefs vir volgende naweek).

Maak ‘n slideshow op ‘n foon van al die spesiale familie oomblikke en stuur die vroegoggend vir haar. Sy sal lekker kan lag en dankbaar wees vir al die kosbare tye saam. Baba foto’s of vakansietye is ook altyd lekker om na te kyk. Mamma’s of Ouma’s wat ver sal dit ook baie waardeer.

Sit die aand haar gunsteling fliek of storie op en kyk saam met haar, sonder enige kommentaar. Mamma’s het laaste keuse as dit kom by televisie en is meestal maar uitgelewer aan sport of Peppa Pig. Of maak vir haar spesiaal ‘n gemaklike hoekie reg met peuselhappies en ‘n koppie tee dat sy haar boek (of nuwe tydskrif) in stilte kan lees vir ‘n uur of twee.

Moet nie laat COVID-19 nog een oomblik versuur van die jaar nie – gebruik die huidige omstandighede en vier die kosbare ma of moederfiguur in julle lewens behoorlik!

English

Cookies Policy

We use cookies so that you may have a better online experience with us.

To view our cookie policy click here.

Please note that by viewing our website, you accept our use of cookies.