Hierdie vorm van gedrag laat ouers dikwels skrik, veral wanneer jou kind die byter is. Maar tog is hierdie gedrag baie algemeen onder jong kinders, en is daar verseker ’n paar maniere vir ouers om hierdie gedrag te hanteer.
Waarom doen kinders dit?
Wanneer ’n kind byt, is hy eintlik besig om te eksperimenteer. Baba’s byt die bors van hulle ma, of die vingers en skouers van hulle ouers. ’n Kind moet eksperimenteer om te leer. Deur die reaksie van ’n volwassene (skrik, eina te sê, te wys jy is kwaad) leer die kind dat dit nie sosiaal aanvaarbaar is om te byt nie.
Dit kom veral voor by kinders tussen die ouderdom van 1,5 en 4 jaar en gebeur gewoonlik wanneer die kind bang of gefrustreerd voel. Kinders van hierdie ouderdom word peuters genoem. Hulle beskik nog nie altyd oor voldoende selfbeheersing nie, en reageer dikwels impulsief en agressief deur te byt, te slaan, hare te trek, ens. Die rede hiervoor is dat hulle nog nie oor ’n voldoende woordeskat beskik om hulself goed uit te druk nie.
Hierdie gedrag kan ook ontstaan weens ’n mate van spanning wat peuters ervaar as gevolg van groot veranderinge. Byvoorbeeld die geboorte van ’n boetie of sussie, ouers wat skei, verandering van au pair, blootstelling aan geweld op televisie, die afwesigheid van ’n ouer, ens. Die kind ken nog nie die woorde om te sê hoe hy of sy voel nie. So mens kan verstaan hoekom hy homself op ’n meer fisiese manier uitdruk.
Beteken dit iets?
Ouers skrik soms groot wanneer hulle kind ’n ander byt, maar onthou, hierdie gedrag is nie altyd agressief bedoel nie. Soms kan honger, tandjies wat uitkom, of bloot nuuskierigheid ook die aanleiding gee vir ’n peuter om ’n ander kind te byt. Hierdie is tot ’n mate ook ouderdomstoepaslike gedrag, maar dit beteken egter nie dat dit toegelaat mag word nie.
Wat kan jy as ouer doen?
Indien jou kind aangespreek word oor hierdie gedrag, maar nog steeds voortgaan daarmee, is dit belangrik dat die kind gestraf moet word wanneer hy/sy byt.
- Gee ’n duidelike, kort straf, wat in verhouding is met die foutiewe gedrag. ’n Kind wat nie toegelaat word om die hele middag te speel nie, omdat hy ’n ander gebyt het, is nie gepas vir sy ontwikkelingsfase nie.
- Gee erkenning aan die kind se gevoel, maar keur sy gedrag af.
- Moenie straf uitdeel sonder om ’n alternatiewe vorm van gedrag voor te stel aan die kind nie.
Wat is jou alternatiewe?
Soek moontlike oorsake. Probeer uitvind in watter situasies jou kind byt. Is dit wanneer hy moeg is? Wanneer hy buite speel? Wie byt vir wie? Het die kind frustrasies (is daar byvoorbeeld iemand wat sy speelgoed wegvat)?
Voorkom moeilike situasies deur vir ’n tyd lank twee kinders waarvan die een altyd die ander byt, nie saam te laat speel nie. Sorg ook dat daar meer struktuur is vir ’n kind wat sukkel hiermee. Dit is nie noodwendig ’n permanente oplossing nie, maar die kind kry wel die geleentheid om ander gedrag aan te leer.
Jy kan ’n kind ook alternatiewe aanleer. Hier volg ’n paar moontlike idees:
- die kind kan ’n kussing byt sodra hy voel hy word kwaad
- vra vir hulp by ’n volwassene indien iemand sy speelgoed afvat
- leer die kind om te deel
- leer die kind om te ruil en beurte te maak
Bron: Hanlie Snyman
Comments are closed.