Feb 28

Hoe om jou kind se spelling te verbeter

Hoe kan ons ons kinders se spelling verbeter? Baie ma’s is bekommerd oor hoe goed of sleg ons kinders spel. Te oordeel aan die gehalte spelling wat mens teëkom by veral kommentaar op nuusberigte en op sosiale media, lyk dit egter nie of almal voel spelling is so belangrik nie.

Hoe kan ons die hele spellingkwessie met minder angs aanpak? Ons gee ‘n paar wenke:

Mens kan spelling verbeter deur jou kind te wys op die verskil tussen klanke en letters

Klanke is die goed wat ons hoor en letters is die goed wat ons sien.

ʼn Eenvoudige oefening waarmee jy dit vir jou kind kan illustreer, is om ʼn prentjie te vat van ʼn potlood en nog een van ʼn kameelperd. Dan sê jy: kom ons klank potlood. P-o-t-l-oo-d. Hoeveel klanke was dit? Dit was ses klanke. Kom ons skryf nou potlood. Skryf die woord dan vir die kind op die regte manier. Dan sê jy: kom ons tel die letters. My wêreld! Die woord het sewe letters. So hierdie ding klink anders as wat hy lyk.

Doen dan dieselfde met kameelperd. K-a-m-ee-l-p-e-r-d. Dit het nege klanke. Maar as ons dit skryf, sien ons die woord het tien letters.

Praat dan bietjie met jou kind hoekom hy dink dit gebeur. Dan gaan hy sê: as ek sê oo of ee dan hoor ek een ding, maar as ek skryf dan skryf ek twee lettertjies.

Hierdie oefening gee vir die kind die gevoel dat hoe dit klink en hoe dit lyk is nie altyd dieselfde is nie. Dit leer hom om nie daarvoor te skrik nie.

Sê vir jou kind dis eenvoudig hoe dit is. Soos wat hy ouer word en al hoe meer skryf, gaan hy baie daarmee te doen kry dat woorde anders klink as wat hulle op papier lyk.

Jy kan spelling verbeter deur met lettergrepe of klankgrepe te werk

Begin ook vroeg-vroeg met lettergrepe of dan klankgrepe werk. Klankgrepe en lettergrepe is nie dieselfde nie. Klankgrepe is hoe ons dit sê en deel.

Kom ons vat byvoorbeeld die woord tassie, sy klankgrepe is ta-sie. Maar as mens die lettergreepverdeling doen, werk jy met die letters. Dan staan die woord tassie voor jou en dan gaan jy hom tussen die s’e deel. Mens moet lettergrepe eintlik nie hardop sê nie, dis iets wat jy sien.

Wanneer jy lees gebruik jy lettergrepe en die reëls vir lettergreepverdeling meer. As jy regtig ʼn baie lang woord in ʼn leesstuk teëkom, dan help lettergreepverdeling jou om te weet hoe jy die woord sinvol moet opbreek.

ʼn Goeie wenk hoe mens lettergrepe aan spelling kan haak, is om jou kind van jongs af, sê hier van vyf af, klankgrepe te laat uitklap. Die kind sien nog nie die woord of die lettertjies nie, maar hy hoor hom. Byvoorbeeld kameelperd klap hy as ka-meel-perd.

Spel beter: woorde met net een lettergreep is bietjie makliker

As die kind die klankgrepe tel, wil mens hê hulle moet bewus word van kort woorde en lang woorde. Later as hulle begin spel, is daar ʼn baie lekker spelreël in Afrikaans en dit is: As jy ʼn eenlettergrepige woord skryf, skryf jy die vokaal die meeste van die kere presies soos hy klink.

Sê nou maar die woord is wit, dan is die vokaal ʼn kolletjie i. In ander woorde hoor ons partykeer ʼn i, maar dan skryf ons ʼn e, soos byvoorbeeld die tweede e in lekker (ons sê le-kir).

Hierdie eenvoudige spelreël help kinders baie. Dit keer dat hulle nie so moedeloos word met die vokale wat anders geskryf word as wat hulle gesê word nie. Soos met die woord boom, wat in bome skielik nou net een o het.

Sodra kinders gekonfronteer word met die taalreël dat die tweede o wegval by die meervoud, begin hulle baie keer dink as hulle ʼn o op enige plek hoor, hulle die ander lettertjie maar kan weggooi. So geleidelik begin hulle besef spelling en taalreëls is ingewikkelder as wat hulle gedink het.

As die kind egter geleer het as daar net een klap is, soos vir ʼn kort woord met net een lettergreep, mens die vokaal skryf presies soos wat hy klink, is dit darem een ding waaroor die kind hom nie hoef te bekommer nie.

Mens kan spelling verbeter deur te wys op die verskil tussen vokale en konsonante

Leer jou kind ook die verskil tussen vokale en konsonante. Of dan klinkers en medeklinkers. Om dit te doen laat jy jou kinders baie speel met klanke in hulle monde. So leer hulle dan watter klanke is konsonante en watter is vokale.

Alle klinkers het stem

Alle vokale, met ander woorde alle klinkerklanke, het stem. Mens sê hulle is stemhebbend. Laat jou kind sy vingers teen sy keel op sy stemkas sit en laat hom ʼn a of ʼn e of ʼn o of ʼn u sê om die beweging te voel.

Dis vir kinders vreeslik lekker om te voel daar is iets lewendigs in hulle kele. Ontdek dit saam met jou kind. En onthou die stemhebbendheid geld vir die vokaalkombinasies ook, soos die langer klanke soos aa,ee,i,oo en uu, maar ook die kort a,e,i,o,u. En dan ook die diftonge soos aai, oei en eu.

Vokale is ook oopmakers in jou woorde

Hulle maak dit maklik om woorde te lees. As mens ʼn klont konsonante opmekaar het, is dit moeilik om te lees. Ons kry dit soms in Afrikaans by ʼn woord soos ‘venster’, waar daar nst langs mekaar is.

Vokale dryf die lettergreepstruktuur van die woord. Daar waar die vokaal is, gaan jou mond oop en dis maklik om te sê.

Laat jou kind die oopmakers saam met jou ontdek. Skryf die alfabet uit en kies al die oopmakers. En onthou in Afrikaans is y altyd ʼn oopmaker. In Engels is y soms ʼn medeklinker aan die begin van ʼn woord, soos “yes”.

Speel nou met die konsonante rond. Hulle is altyd toemakers. Soos lippe wat aanmekaar raak (m of p) of tande op lippe (v), of ʼn tong wat oplig en aan die verhemelte raak (r). Partykeer is daardie aanraking net ʼn oomblikkie lank. Soos wanneer mens k of t sê. Dis vlietend, want hulle is ontplofklanke. Maar as mens sê mmm is die aanraking die hele tyd daar.

Speel die spieëlspeletjie met jou kind

Sit voor ʼn spieël saam met jou kind en raak bewus van die verskillende klanke. Dit is ʼn uitstekende oefening om jou kind se fonologiese bewustheid aan te help. Sonder hierdie klankbewussyn gaan hy regtig sukkel om te lees en te skryf.

Die spieëloefening kan mens al hier teen vyf of ses jaar doen, dalk selfs jonger. As jy dit nog nooit met jou kinders gedoen het nie, kan jy dit natuurlik ook met ouer kinders doen. Dis ʼn speletjie, mens maak geluide en so ontdek jou kind ʼn stuk van sy liggaam.

Aandag aan klempatrone kan spelling verbeter

Leer jou kind verder van klempatrone. Nie net in gedigte nie, maar in alle woorde. Mens moet klemoefeninge met jou kinders doen, omdat dit hulle instel op die ritme en die klankpatrone van taal.

ʼn Kind moet weet dis vís-stok en nie vis-stók nie. En die kind moet dit in sy kop kan hoor. Spelling word ook deur klem beïnvloed. Soos in die reël dat ʼn beklemtoonde, lang a aan die einde van die woord vir sy meervoud ʼn afkappingsteken kry, soos in die woord hoera wie se meervoud hoera’s is en nie hoeras nie!

Begin deur net eers jou kind bewus maak van klem. En weer eens, maak ʼn speletjie daarvan. Jy sê vir die kind: het jy al gehoor dat mens een deeltjie van ʼn woord harder sê as ander dele?

Die belangrike ding met klank is jy moet baie speletjies met jou kind speel. En baie daaroor lag as dit snaaks klink. Dis nie ʼn pen-en-papier-oefening nie. Dis ʼn praatoefening, wat mens byvoorbeeld kan doen as jy in ʼn kar ry.

Bron: Oolfant.com

English