Oct 19

Hoe gemaak wanneer ouerskap style verskil?

Dit bly maar ‘n ongemaklike onderwerp – veral as mens sterk voel oor jou eie ouerskap styl en keuses. Meestal probeer mense, met goeie intensies, help deur raad te gee of dalk wil jy ander ouers help deur hulle die lig te laat sien wanneer dit kom by dissipline, slaap of roetine – maak nie saak hoe goed dit bedoel word nie, dit lei gewoonlik na ongemaklike situasies.

Ek deel ‘n paar wenke van Janet Lansbury, hoe om hierdie situasies te hanteer, vir die beste uitkoms moontlik.

Moenie preek of leer nie

Soms is dit beter om net stil te bly – dit is moeilik as jou kind in ‘n situasie is en iemand hanteer hulle anders as wat jy verkies. As jou kind se lewe in gevaar is of dit is ‘n etiese verskil, sê ASSEBLIEF iets (indien nodig, skreeu en waarsku) maar as dit iets onskuldig is en iets wat mens kan oorsien vir ‘n paar uur, doen dit. Byvoorbeeld: as jy verkies om nie jou kind voor te skryf gedurende speeltyd nie of julle het ‘n ‘geen voete op die bank’ reël, maar dit is die teenoorgestelde by die persoon by wie julle kuier – besluit of dit die moeite werd is om jou siening te probeer verduidelik en of julle die kuier gaan geniet en die vrede bewaar. Oupas en oumas redeneer graag “maar ons het jou so groot gemaak en daar is niks fout met jou nie” en kan hulle dalk onnodig in die gesig gevat voel.

As daar iets is waaroor jy baie sterk voel of graag wil bespreek, maak seker die gesprek geskied lank na ‘n ongemaklike voorval of beter nog, voor een kan plaasvind, af. Skep ‘n geleetheid en vra dalk vir raad en deel so ook joune.

Eerlik en opreg

Wees van die begin af oopkop en eerlik dat ons almal ons kinders verskillend groot maak, daar is klomp verskillende maniere. Wanneer twee gesinne bymekaar kom moet elke gesin besluit wat die beste vir hulle werk, daar gaan verskillende ouerskap style wees en dit is normaal. Pak die bul by die horings en praat daaroor indien dit naby familie of vriende is om toekomstige geleenthede te vergemaklik. Hoe ouer kinders raak hoe makliker raak die situasies ook, dis gewoonlik in die baba en kleuter dae wat dit meer ingewikkeld is.

Wees jy die voorbeeld

Mense sal baie vinnger verstaan hoe jy jou kinders hanteer deur dit prakties te sien, eerder as wat jy probeer om aan hulle te verduidelik hoekom jy goed so doen en sekere so beginsels toepas. Hulle sal ook dan kan agterkom hoe om jou kind te hanteer. Dis moeilik om soms sterk te staan as sommige ouers iets heeltemal op ‘n ander manier doen, maar maak seker jy hou by jou reëls en beginsels – sodoenende verwar jy ook nie jou kinders nie. Jou benadering tot ‘n situasie en jou kind se reaksie daarop inspireer dalk iemand.

Wees gerus dat jy as primêre versorger die grootste rol in jou kind se ontwikkeling speel. Die konstante manier van doen en julle verhouding is die heel belangrikste. Dis so wonderlik om wel ouers te ontmoet wat dieselfde ouerskap styl het. Jy sal hulle by ‘n skoolbyeenkoms, kinderpartytjie of die naaste speelgrond vinnig kan uitken. Daar is geen reg of verkeerde manier nie – die beste manier is die een wat werk vir jou, jou kinders, jou gesin en julle huis. Dit is wel belangrik om mense met ‘n soortgelyke ouerskap styl te vind en met hulle te gesels oor die belangrike dinge en fases van kinders groot maak. Ouerskap kan alleen raak en soms gebeur dit dat jou naaste mense nie noodwendig dinge dieselfde as jy sien nie. Ouers kort ‘n klankbord, so “find your tribe and love them hard”.

English

Cookies Policy

We use cookies so that you may have a better online experience with us.

To view our cookie policy click here.

Please note that by viewing our website, you accept our use of cookies.