Oct 28

Voëlvoerders vir die tuin

Verskillende voëltjies in die tuin klink so lekker lewendig en hou baie leer geleenthede in vir die kinders- oudiovisueel, sensories, geheue ontwikkeling, “messy play” en nog vele meer! Lok voëltjies na julle tuin of stoep met hierdie lekker peuselhappies.

Delicious Dennebol

Die aktiwiteit is vreeslik eenvoudig en kinders kan dit maklik self maak – staan maar naby vir hulp en om die vuil handjies af te vee na die tyd.

Benodighede:

  • Dennebol of leë toiletpapier rolletjie
  • Toutjie
  • Grondboontjiebotter
  • Voëlsaad
  • Smeermes

Metode:

  1. Neem die dennebol of toiletpapier rolletjie en bind ‘n toutjie bo-aan vas. Maak seker die toutjie is lank genoeg dat dit om ‘n tak vasgemaak kan word.
  2. Neem die grondboontjiebotter en smeer dit tussen die dennebol se punte of bedek die hele toiletpapier rolletjie daarmee.
  3. Druk liggies die voëlsaad vas op die grondboontjiebotter of gooi van die voëlsaad uit en rol die dennebol of toiletrolletjie daarin.
  4. Hang dan op en hou dop! Binnekort sal die voëls kom smul.

Voëlsaad koekies

Benodighede:

  • 1 pakkie gelatien
  • 1 ½ koppies voëlsaad
  • Tandestokkies of strooitjie opgesny in 5cm stukkies
  • Dun tou
  • ‘n Kolwyntjie pan
  • Kleefwerende sproei
  • Gedroogte vrugte, neute en groter sade (opsioneel)

Metode:

  1. Ontwikkel die gelatien – volg die boksie se instruksies.
  2. Voeg die voëlsaad by die gelatien en meng goed.
  3. Spuit die kolwyntjie pan goed met die kleefwerende sproei.
  4. Vul die pannetjies met die saadmengsel.
  5. Gebruik tandestokkies of strooitjies om gaatjies in die saadkoekie te maak. Maak seker die gaatjie is nie te naby aan die bo-kant nie omdat dit dan maklik kan breek wanneer julle dit ophang. Los die strooitjie/stokkies binne in.
  6. As julle wil, kan die ekstra neute, sade en gedroogde vrugte gebruik word om die saadkoekie te versier.
  7. Laat staan eenkant om te stol.
  8. Sodra hulle hard is, verwyder dit versigtig uit die pan en ryg toutjies deur en hang dit op in ‘n boom.

1,2,3 Kos is op die tafel

Vir die wat graag wil deel in die pret, maar tyd is min!

  1. Vat ‘n leë 6-eierboks (sny deksel af).
  2. Maak gaatjies in al vier hoeke van die eierboks en knoop twee lang stukke tou daardeur. Vul die houer met sade en siedaar!
  3. Gaan hang dit versigtig in die boom. Maak seker dit is goed gebalanseer sodat dit die gewig van die voëltjies kan dra.

Plaas die voerders in die tuin, voor ‘n venster of in die naaste boom sodat julle die voëltjies die hele dag kan dophou. Dit help om ‘n liefde en belangstelling vir diere en die natuur te ontwikkel by kinders. Gesels oor die voëls en hou boek van watter voëltjies julle sien, nuwes wat kom kuier en let ook op na die geluide hulle maak. Julle kan oplees oor die verskillende voëlsoorte wat daar in julle omgewing is, watter soort sade of vrugte hulle geniet en die nessies wat hulle bou.

English