Gewoonlik kom meeste van die feestyd se beplanning, versierings, geskenke, kos en reëlings op die mamma neer. Mens wil dit spesiaal maak, goeie herinneringe skep vir die kinders, tradisies laat voortleef en so ook seker maak almal geniet hulself. Maar al hierdie verwagtings kan uitputtend wees – voeg 2020 en al sy uitdagings by en dis ‘n resep vir chaos.
Bestuur die vakansie se verwagtinge
As ons rustig raak en ons vra ons kinders en familie wat hulle regtig die feestydperk wil doen, dink ek ons sal verbaas wees deur wat hulle regtig gelukkig gaan maak. Dis die eenvoudige goed wat saak maak en toe nou glad nie die groot en duur aktiwiteite en dinge nie. Kyk na jouself en jou geestesgesondheid – die jaar was lank so vermy enige onnodige druk. Laat vaar die idee om almal se gedrag, inname en uitrustings te beheer en koördineer. Vriendelike en ontspanne ouers en familie gaan baie meer vir kinders beteken as wat die blinkste kersboom en gourmet etes ooit sal kan. Moenie onnodige uitgawes aangaan wat ekstra spanning kan veroorsaak nie. Trek name uit ‘n kerskous as dit by presente koop kom of besluit op ‘n haalbare begrote bedrag en hou daarby. Trek die boublokkies of bordspeletjies nader, geniet waatlemoen onder in die koelte en waardeer die samesyn van die seisoen.
Delegeer en deel uit
Dit help nie jy is stokflou op spesiale dae en jou geduld of senuwees hang aan ‘n flenter nie. Almal is goed met sekere take en doen dit moeiteloos en vinnig. So laat gaan die beheer en gee oor. Stuur iemand vir inkopies terwyl jy kook of vra die kinders om te help presente toedraai. Laat almal iets saambring, so deel mens die onkoste en die voorbereiding van groot maaltye. Sommige familielede mag dalk sterk voel oor ‘n sekere tradisie of aktiwiteit so laat hulle dan die leiding neem daarvan. Besluit vooraf wie is verantwoordelik vir watter opruim en skoonmaak sodat almal nie lui wegsteek as al die lekker verby is nie. Beter nog – deel in spanne op. Vele hande, ligte werk!
Besluit wat is absoluut noodsaaklik en laat gaan die res
Moenie julself te dun saai en alles probeer bywoon nie. Loop vroeg as jy wil of laat weet julle gaan later aansluit by ‘n geleentheid. As dit julle bekers vul om die uitgebreide familie te onthaal – doen dit dan. Maar as dit die teenoorgestelde effek op jou of julle het, moenie! So lekker soos wat die tyd van die jaar is kan dit ook vir sommige van ons baie angs en onsekerheid inhou. Vermy die outydse gewoontes wat ons kinders forseer “soen en druk die tannie, sit op Kersvader se skoot, deel jou (nuwe) speelgoed en presente…” Deur gesonde grense te stel oor die feestyd, gee dit ons die geleentheid om die seisoen in al sy glorie te waardeer.
Comments are closed.