Sep 14

Vetsug in ons kinders

Suid-Afrikaanse kinders sit met ‘n probleem.

Nee. Dit is nie hulle skoolpunte nie.

Nee. Dit is nie hulle maniere nie.

Dit is hulle gewig. Suid-Afrika het van die hoogste syfers oorgewig kinders ter wêreld en dit het ‘n impak op ons kinders vandag, en vir die res van hulle lewens.

Die statistieke skets vir ons die prentjie: 14.8% van alle laerskool kinders is oorgewig en/of het vetsug. Daardie syfer styg tot by 30% in stede en groot dorpe. Indien hierdie tendens voortgaan, sal ons in 2025 sit met ongeveer 4 miljoen oorgewig laerskool kinders. En die nagevolge daarvan is erger as wat mens dink.

Die oorsake van vetsug in kinders is baie kere meer kompleks as wat mens sou dink. Hierdie kinders kan te veel eet, te min oefen of hulle mag dalk ‘n genetiese geneigdheid hê wat hulle meer vatbaar maak vir vetsug. Daar is talle ander faktore wat ‘n rol kan speel. Maar amper alle oorgewig kinders, of kinders wat aan vetsug lei, se probleem begin in dieselfde plek – die huis.

Kinders se probleme met hulle gewig begin gewoonlik as gevolg van slegte gewoontes by die huis. Sommige mense monitor nie hulle kinders se porsies nie. Sommige mense is geneig om hulle kinders te oorvoer, of vir hulle kinders te vroeg te veel vryheid te gee oor wat hulle mag eet en wat nie. En sommige mense kan bloot nie gesonde kos beskostig nie. Armoede is nog ‘n bydraende faktor in die oorsake van vetsug. Ongelukkig is ongesonde, vetterige kos met meer kalorieë meer beskostigbaar as gesonde alternatiewe.

Vetsug in kinders is ongelooflik gevaarlik, en kan ‘n probleem word waarmee iemand vir die res van hulle lewens sukkel.

Van die vooruitgeskatte 4 miljoen kinders wat in 2025 aan vetsug sal lei of oorgewig sal wees, sal ook omtrent 120 000 begin sukkel met pre-diabetes, en 60 000 sal begin lei aan Tipe 2 diabetes.

Ander kwale wat sal kop uitsteek is:

– Asemhalings probleme, soos slaap apnee en asma

– Probleme met hulle gewrigte en spiere

– Probleme met hulle bloeddruk en cholesterol

– Lewer probleme

– Emosionele probleme soos afknouery by die skool

Dit is ‘n bitter pil om te sluk. Ons almal wil net die beste vir ons kinders hê. Die gedagte daaraan dat jou kind kan lei aan hierdie kwale, lank voor hulle tyd is nie maklik nie. En meer nog, dit is onregverdig teenoor ons kinders.

Ouers het ‘n verantwoordelikheid om vir ons kinders ‘n gesonde lewe te gee.

Die oplossing begin by jou, jou huis, en jou kind. ‘n Gesonde leefstyl is gewoonlik genoeg om jou kind met die stryd teen vetsug te help. ‘n Goeie, gesonde dieet, gepaard met oefening doen wonderwerke.

‘n Laerskool kind moet gemiddeld 1 600 kalorie per dag in neem en dit is makliker as wat mens dink. Wit brood? Nie meer nie, gaan vir ‘n gesonder alternatief, soos volgraan brood. Suiker? Suiker hoef glad nie uitgesny te word uit ‘n dieet uit nie, maar moet drasties verminder word. Gaskoeldrank, lekkers en sjokolade bevat te veel suiker vir jong kinders, dus is dit beter om te soek vir lae-suiker alternatiewe produkte. Soos suikervry koeldrank. Mens moet ook meer fokus op groente en vrugte. Kyk, ‘n gewone onsmaaklike broccoli wat proe soos sout en kookwater is vir niemand lekker nie, maar mens kan altyd leer hoe om jou groente lekkerder gaar te maak. ‘n Bietjie knoffel hier, ‘n bietjie asyn daar, en jy kan jou groente in ‘n ongelooflike dis in verander. Daar is klomp lekker groente disse beskikbaar op die internet. Gaan probeer dit! Dit is nog beter as mens op vleis kan afskaal, en dalk ‘n dag of twee in ‘n week sonder vleis gaan.

Saam met gesonde eet, moet mens meer beweeg. Gaan stap met die honde, gaan ry fiets in die park, of gaan swem op ‘n lekker somermiddag. Oefening kan wonders doen vir jou kind se liggaam, brein, en emosionele welstand.

Onthou, jy as ouer is die voorbeeld in die huis. As jy ongesond eet, gaan jou kind ongesond eet. As jy slegs voor die TV lê en peuselhappies eet, gaan jou kind dieselfde doen.

Hierdie is ‘n familie poging. Laat almal saam gesonder eet. Laat almal saam gesonder leef, en oefen. En beide jy, jou gesin, en jou kind sal die voordele daarvan ontvang.

English

Cookies Policy

We use cookies so that you may have a better online experience with us.

To view our cookie policy click here.

Please note that by viewing our website, you accept our use of cookies.