Jun 01

Terug skool toe tydens Covid-19

“Back to school…back to reality!?”

Graad 7 en Graad 12 leerlinge is eersdaags weer terug by die skool – hopelik is al die skole reg teen 8 Junie. Ons is nog in die donker oor wanneer die ander grade en kleuterskole weer sal open.

Daar is so baie inligting, studies en opinies wat die rondte doen rondom kinders se gesondheid, geestesgesondheid en hulle akademiese vordering.

Sommige studies wys kinders kry nie sommer Covid-19 nie en is ook nie draers daarvan nie, terwyl ander studies wys dat Covid-19 ander nagevolge het. Daar word gestry dat die studies te klein is en dat ons nog te min weet van die siekte af om sulke kanse te waag. Isolasie het ‘n impak op kinders se geestesgesondheid en hulle verlang na hul maats en die roetine wat skool bied.

Sommige kleuters en voorskoolse leerders is weer dol gelukkig by die huis en geniet die kwaliteit tyd saam met hul ouers, boeties en sussies. Baie floreer met tuisonderrig en die persoonlike aandag. Sommige ouers voel kinders word beskerm deur nie die emosielose maskergesigte en streng maatreëls in die publiek te sien nie. Ander is ook onseker hoe jong kinders geaffekteer gaan word deur sosiale distansie by die skool, pouses, Juffrou se aanraaking… en of dit nie ‘n eens veilige hawe wat die skool was, gaan vernietig vir kinders nie.

Baie huisomstandighede is ook nie ideaal nie – in sommige huishoudings is daar nie geld vir kos nie, wat nog te sê van al die materiale en toerusting wat nodig is vir tuisonderrig. Sommige ouers werk van die huis af en dit plaas geweldige druk op hulle om ‘n gebalanseerde werk-lewe balans te handhaaf.

Sosiale media vererger ook die skuldgevoelens en irrasionele gedagtes. Ouer- en/of mammagroepe is vol kommentaar en sterk opinies. Onthou, meeste mense deel goed wat sensasie aanhits en wat hulle opinies versterk. Dit plaas onnodige druk op ouers en niemand het nou ekstra druk nodig nie.

Daar was ‘n plasing op sosiale media gewees wat iets in die lyn van “ons mag dalk almal in dieselfde storm wees maar definitief nie in dieselfde bootjie nie” sê. Almal se stories, huise en omstandighede lyk anders. Uithouvermoë en toleransievlakke verskil, ouer-en-kind verhoudings verskil. Vir sommige ouers is akademie baie belangrik, vir ander is die geborgenheid van hul kinders heel bo, ander het geen keuse nie en moet dood eenvoudig net hul kind skool toe stuur as gevolg van werk en omdat daar geen ondersteunings netwerk is nie… almal se bootjie is anders. So kom ons ondersteun mekaar in hierdie tydperk van moeilike keuses, skuldgevoelens en bevraagtekening.

Doen wat wat die beste is vir jou, jou kinders en julle “bootjie”. Berus by jou keuse, verduidelik dit aan julle naastes as dit ondersteuning sal bring en verseker jou kinders dat hulle jou eerste prioriteit is.

English

Cookies Policy

We use cookies so that you may have a better online experience with us.

To view our cookie policy click here.

Please note that by viewing our website, you accept our use of cookies.