Hoe beter jy verstaan wat jou kind ervaar, hoe beter sal jy haar kan ondersteun. Maar beteken ’n tasdefensiewe diagnose jy moet toegee aan al jou kind se eise oor die goed wat haar irriteer? Of moet jy haar help om daarby aan te pas?
Klere is gewoonlik ’n groot kwessie. As jy jou kind se klere-etikette moet afknip omdat dit hulle irriteer, doen dit – maar nie uit die staanspoor nie. Laat hulle dit eers met die etiket dra en knip dit net af as hulle daaroor kla.
Ouers word vinnig deur hierdie gedrag ingesuig en sien die probleem dan vooruit nog voor dit werklik daar is. Dis dán dat hulle oorbeskermend word, wat die saak eintlik erger maak. Tasdefensiewe kinders het hierdie ervarings nodig, en die geheim lê in balans.
- Verstaan dat tassensitiwiteit vir jou kind baie werklik is. Wees sensitief en geduldig, maar moet hulle nie oorbeskerm nie.
- Moedig jou kind aan om met verskillende teksture te speel of dit aan te raak wanneer hulle gevoer, uitgerus, ontspanne en in ’n goeie bui is. Hulle vind hierdie aktiwiteite ekstra moeilik en jy moet hulle dus sagkens aanmoedig.
- Besef dat klere vir jou kind ’n kwessie is en verlaag jou standaarde. Pienk en rooi pas by mekaar en as jou kind van ’n spesifieke kledingstuk hou, koop 10 daarvan.
- Jou kind sal naatlose sokkies en sagte katoen verkies, neem dit dus in ag wanneer julle klere koop.
- Vermy groot groepe mense en fisieke kontaksport as jou kind dit nie geniet nie – dit gaan net jou kind totaal buite beheer laat voel.
- Moet hulle nie saggies aanraak of kielie nie. Ferm aanraking laat die brein bedaar en stel jou kind gerus. Ligte aanraking lei baie vinniger tot vrees of ’n veg-of-vlugreaksie.
- Maak seker jou kind het hulle eie stil ruimte en genoeg tyd op hulle eie sonder die inmenging van boeties en sussies of ander mense.
- Troeteldiere is uitstekende maats vir tassensitiewe kinders omdat dit hulle van ’n taservaring voorsien wat buitengewoon vertroostend en nie-bedreigend is, en wat hulle in staat stel om op hul eie voorwaardes interaksie te geniet. Katte is ’n beter plan as honde omdat honde soms te besig is en lek, maar tog ook goeie blootstelling bied.
Bron: Netwerk24
Comments are closed.