Nov 29

Moedig vriendelikheid by jou kind aan

Mens kon nie help om bietjie meer patrioties te wees tydens die Rugby Wêreldbeker nie. Dit bring vir my soveel nostalgiese herinneringe terug van toe ek op skool was. Ek het baie min geweet van rugby – en ek moet bieg, ek ken vandag nog nie al die reëls nie, maar ek onthou die gevoel van eenheid, spangees en samesyn. Ons het rugbytruie skool toe gedra en as familie en vriende saam gebraai met elke wedstryd. Die kinders het buite bal gespeel en geswem, koue waatlemoen geëet en ysies gedeel. Soms het ons ‘n tweede keer gebraai en later almal saam voor die televisie ontspan met tee en roosterbroodjies. Dis so lekker om te sien hoe ‘n nasie saamstaan tydens sport geleenthede.

Die Facebook groep #iamstaying roer net so aan die hartsnare. Op hierdie groep deel Suid-Afrikaners gebeurtenisse waar iemand ‘n goeie daad gedoen het of ‘n positiewe ondervinding wat hulle gehad het. Dis werklik aansteeklik – mens begin een storie lees en dan as jy weer sien is dit 40 minute later! Dit laat my weereens besef hoe baie mooi mense in ons land bly en hoe ryk aan kultuur ons land is. Daar word maklik klem gelê op die negatiewe, maar die laaste paar maande se rugby en #iamstaying posts herinner my net weer dat Suid-Afrikaners liefdevolle, gasvrye mense is wat mekaar graag wil help.

Kinders se harte is so onskuldig – hulle sien net die mooi raak, onthou meestal net die lekker en ons as ouers of voogde moet dit koester en bewaar. Ons moet goeie dade en eienskappe van mense uitwys en vier. Kom ons prys hulle vir liefdevolle dade. Kom ons wys hul wat is empatie en ware liefde vir jou naaste – ons land kan dan NET ‘n mooier plek wees.

Robert Fulghum reken “Don’t worry that children never listen to you, worry that they are always watching you” en David Bly sekondeer dit met “Your children will become what you are, so be what you want them to be”.

Soos ek terug dink aan my eerste Rugby Wêreldbeker onthou ek net die mooi… Ek dink dis belangrik om kinders te grond in wonderlike gelukkige herinneringe. Die lewe gaan ongelukkig gepaard met goeie en slegte tye, maar enige situasie vertoon makliker wanneer jy goeie, liefdevolle herinneringe het om aan vas te hou. Ons moet onthou dat ons elke dag die geleentheid het om herinneringe skep, al voel dit soos kleinighede. Speel speletjies soos ‘ek sien met my kleine oogies’ in plaas daarvan om frustreerd te raak in die verkeer. Soek geleenthede om vriendelik en behulpsaam te wees – groet die karwag vriendelik of deel ‘n kospakkie aan ‘n minder bevoorregte persoon uit.

Ek los julle met ‘n laaste aanhaling,

“The most powerful way to change the world is to live in front of our children the way we would like the world to be.” – Graham R. White

Zanje Kromhout

English

Cookies Policy

We use cookies so that you may have a better online experience with us.

To view our cookie policy click here.

Please note that by viewing our website, you accept our use of cookies.