Mar 26

Kieme op jou kleinding se hande

Kinders vind dit reeds moeilik om te verstaan hoekom hulle moet hande was, veral as hulle dan geen kieme kan sien nie. Nou met die virus in die rondte, moes hulle vinnig leer van ‘hand sanitiser’ en om vir 20 sekondes lank hande te was.

Vir hulle mag dit dalk net voel soos deel van die lang lys “moet’s” – jy moet huiswerk doen, jy moet vroeg gaan slaap, jy moet al jou kos eet en so aan. Die beste manier om vir hulle te verduidelik hoe kieme kan versprei, is deur dit prakties te demonstreer.

Demonstrasie 1

  • Smeer petroleumjellie aan jou kleinding hande.
  • Druk sy hande in blinkers of strooi van die blinkers oor sy hande. Wenk: Doen hierdie aktiwiteit buite sodat julle maklik kan opruim.
  • Laat jou kind aan verskeie voorwerpe, soos papier, snesies of koerantpapier vat. Sodoenende sal hy sien hoe die blinkers aan alles vasplak en versprei. Laat hy dan probeer om die blinkers af te vee met ‘n stukkie toiletpapier. Dit is nie so maklik nie…
  • Kry ‘n skottel met lou warm water en seep. Vra dat hy sy hande sorgvuldig moet was en afdroog. Hy sal dadelik opmerk dat al die blinkers af is en dat sy hande silwerskoon is!

Demonstrasie 2

  • Julle gaan 3 snye brood en 3 plastieksakkies benodig vir hierdie eksperiment.
  • Laat jou kleinding buite in die tuin gaan speel nadat julle julle huistake voltooi het vir die dag.
  • Vat aan die eerste snytjie brood met die vuil hande en plaas dit in ‘n plastieksakkie.
  • Help jou kind om dan sy hande te was en plaas die tweede snytjie brood, met skoon hande in ‘n plastieksakkie.
  • Plaas die laaste snytjie brood in ‘n sakkie met behulp van ‘n skoon vurk.
  • Maak seker al die sakkies is gemerk en deeglik toe.
  • Jou kind kan nou die sakkies op ‘n veilige plek gaan bêre. Verkieslik in ‘n vensterbank, want sonlig sal die proses versnel. Hy kan die brood dophou oor die verloop van ‘n paar dae en kyk hoe verkleur die verskillende snytjies. Dit sal duidelik word dat die eerste, ‘vuil’ snytjie brood vinniger verkleur en vrot.

As dit nie genoeg is om hulle te oorreed om hande te was, veral voordat hulle eet nie, dan weet ek nie wat sal nie.

Bly veilig!

English