Ons almal het daai blikkie vol oorskiet of ekstra knope in die kas. Trek die knope nader en laat die jongspan daai vingertjies en handspiere oefen.
Hier is ‘n paar idees wat min voorbereiding vat en minimale opruiming verg:
Vir die heel kleintjies
- Hemp se knope – Vat enige hemp en laat hulle die knope los en vas maak. Probeer om nie in te meng of hulle help nie, dis veronderstel om ‘n speletjie te wees.
- Sorteer kleure – Meng klomp kleurvolle knope (kies so 3-4 kleure) in ‘n groot bakkie. Sit paar gekleurde houertjies of gekleurde papiere uit (die kleure moet ooreenstem met die knope se kleure). Laat hulle die regte kleure saam groepeer in die verskillende houertjies.
- Pos die knope – Gebruik ‘n leë spaarvarkie of sny in gleufie in ‘n plastiekhouer se deksel. Laat jou kleinding die knope in die gleuf gooi. Alhoewel dit vreeslik eenvoudig klink is dit baie goeie oefening vir klein handjies.
Vir die res van die jongspan
- Geheue en herkenning – Kry twee stelle van dieselfde knope (bv. 2 rooi knope, 2 bloues, 2 groenes, 2 wittes). Hou een stel by jou en gee een stel vir jou kind. Pak ‘n patroon met die knope, laat jou kind daarna kyk en maak dan toe met ‘n lappie of papier. Nou moet jou kind probeer om die patroon na te boots deur sy knope in dieselfde volgorde te pak. Wanneer hy dit reg het, is dit sy beurt om ‘n patroon uit te pak en jou beurt om te raai.
- Knoop wurms – Vat enige papier, teken verskillende strepe, kronkelpaaitjies, sirkels en zigzags met ‘n lekker dik vetkryt. Laat jou kind dan die verskillende knope op die lyne pak of plak (met gom of Prestik).
- Ryg van knope – Plaas klei plat op die tafel om as ‘n stewige basis te dien en druk paar harde, rou spaghetti stokkies daarin wat regop staan. Ryg die knope deur die spaghetti. Julle kan ook pypskoonmakers of plastieknaalde en wol gebruik (beskikbaar by meeste “craft” of skryfbehoefte winkels)
*Kinders kan later die klei en knope ook gebruik om torings te bou (‘klip torings’). As hulle kreatief voel en die spaghetti, knope en klei in iets anders in wil verander, los hulle om die kreatiwiteit te ontkiem. Die pypskoonmakers en knope kan ook gebruik word om juwele soos ringe en armbande te maak na die fyn motoriese aktiwiteit. - Vaswerk van knope – Mens kry by naaldwerkwinkels plastiek weef velle. Kinders kan dit gebruik saam met plastieknaalde en wol en oefen om knope op die velle vas te werk.
*Hou sommer ‘n oog oop vir ‘n tolletjiebrei – dit sal wonderlike fyn motoriese vaardighede leer vir die ouer kinders.
As al die aktiwiteite klaar gespeel is – gee vir hulle skoon, wit papier en gom. Laat hulle toe om ‘n kreatiewe knoop-kunswerk te skep.
Comments are closed.