Jun 18

Die voordele van fantasiespel

Onthou jy toe jy kleinding jouself vir ure kon besig hou sonder televisie of spoggerige elektronika? Onthou hoe jy kombershuise in die sitkamer gebou het, bokskarre gemaak het en met jou verbeelding die wêreld vol gery het?

Mens dink terug en voel dan half laf vir al die dinge waarmee ons vorendag gekom het, maar ons besef nie altyd die voordele wat dit vir ons ingehou het as kinders wat besig was om te groei en ontwikkel nie.

Die voordele wat fantasiespel inhou sluit onder meer in:

Dit bevorder kreatiewe denke en probleemoplossing

Vrye kreatiwiteit wat nie onderdruk word nie, help dat kinders selfs meer kreatief raak en nog meer buite die boks dink. Verbeelding word op die manier ontsluit en ontwikkel tot op ‘n vlak wat uiteindelik help met kreatiewe idees en probleemoplossing as ouer kinders en as volwassenes. Dit kan eenvoudig net wees hoe om ‘n boks te omskep in iets om mee te speel, of om ‘n rol in die speletjie te skep vir ‘n nuwe maatjie wat onverwags saam kom speel.

Dit boots die regte lewe na

Kinders sien en hoor baie meer as wat mens besef, hetsy deur ons eie optrede, of deur wat hulle ander mense sien doen wat ‘n rol in hulle lewens speel, of op die televisie. Hulle kan verskeie situasies in hulle speletjies uitbeeld wat alles insluit vanaf speel-speel werk, soos ontvangsdame, dokter, juffrou of kelner wees, tot konfliksituasies wat hulle aanskou het. Dis daarom so belangrik om seker te maak dat ons reg optree wanneer ons kinders ons dophou, sodat hulle weet wat hul regte optrede moet wees in situasies waar daar byvoorbeeld konflik is. Dit sal hulle beter toerus om hulle van ‘n jong ouderdom af te leer wat die regte manier is om konflik op te los.

Dit help met die ontwikkeling van sosiale en emosionele vaardighede

Hetsy daar gesprek gevoer word met verbeeldingsmaatjies of met speelgoed, leer dit kinders om te gesels en hoe om met ander om hulle te kommunikeer, en sodoende word hulle sosiale vaardighede bevorder, veral wanneer hulle nie gereeld saam met ander maatjies kan speel nie.

Terwyl hulle speel, eksperimenteer hulle met verskeie sosiale en emosionele rolle in hul lewens. Hulle leer byvoorbeeld hoe om beurte te maak, en oor verantwoordelikhede soos die versorging van iets of iemand (soos ‘n speelgoedbaba of troeteldier). Dit leer hulle ook oor emosies, soos hoe om simpatie te hê met ‘n persoon of ‘n situasie.

Dit bevorder taalontwikkeling

Die beste manier om enige iets te bemeester is deur herhaling en oefening. Hoe meer hul gesels, hoe vinniger ontwikkel dit hulle taalvaardighede en dit bou om die beurt hulle selfvertroue ook. Dit kan selfs help om ‘n tweede taal te te leer en ontwikkel, byvoorbeeld Engels wat hulle op die televisie hoor, wat ook ‘n baie belangrike tweede taal vir hulle gaan word in die toekoms.

Dit bevorder onafhanklikheid van moderne tegnologie en speelgoed

Dis belangrik vri kinders om te weet dat mens nie net kan pret hê deur met duur en moderne speelgoed te speel nie, maar dat pret selfs in alledaagse items gevind kan word, en dat mens jouself met enige iets, enige tyd en plek kan vermaak.

Fantasiespel kan ook op verskeie maniere aangemoedig word. Dit sluit onder meer die volgende maniere in:

  • Om klaar gereed speelgoed te hê vereis nie so baie kreatiwiteit om mee te speel nie, so om vir hulle items te voorsien soos leë bokse, leë kombuispapierrolle, ou lakens en ‘n paar idees, sal hulle kreatiewe denke baie meer aanmoedig en stimuleer. Selfs ou klere en skoene uit jou kas kan ure se vermaak verskaf.
  • Om terug te dink aan die speletjies wat ons in ons kleintyd gespeel het en hulle te voorsien met idees en voorstelle van wat hulle kan doen, sal hulle in die regte rigting stuur en help om kreatiwiteit aan te moedig. Kort voor lank sal hulle ons ou speletjies uitgebrei, verander of verbeter het deur hulle eie persoonlikhede daarby in te bring. Soms is dit net nodig om ‘n klein saadjie te plant vir ‘n hele boom om te groei.
  • Deur af en toe saam met hulle te speel, help dit hulle om hul idees uit te brei en te bevorder, en dit help hulle om te weet dat hulle hulself mag uitleef in fantasiespel en dat hulle nie skaam hoef te voel daaroor nie. Dis ook ‘n lekker manier om kwaliteit tyd saam met kinders deur te bring, weg van tegnologie en moderne speelgoed af. Selfs al is dit net om ‘n teepartytjie te hou, ‘n piekniek op die sitkamer mat, of om almal saam aandete te eet in ‘n kombershuis.

Daar lê wêrelde en wag vir ons kinders om oop te sluit en te verower, beide fisiese en verbeeldingswêrelde. Ons as ouers kan so maklik vir hulle die sleutels daarvan gee, of nog beter, ‘n padkaart tot daardie sleutels. Al wat dit vat is bietjie verbeelding!

English