Jun 08

‘n Vadersdag feesmaal

Soos dinge stadig begin terug keer na normaal en ons vergeet van die afgelope paar weke – is daar ‘n Superheld wat ons moet vier op Sondag 21 Junie!

Ons kan nie vergeet van die baie ure wat pappa of oupa (of oom of ouboet) die laaste paar weke gespeel het, gehelp het met skool werk, fluks in en om die huis sy kant gebring het nie. Sommige pappas moes in gaan werk toe, ander kon van die huis af werk of moes vinnig plan maak vir ekstra werk tydens die grendel tydperk.

Daar is nogsteeds baie druk en onsekerheid, so gebruik die dag om die Superheld in julle lewens te bederf met hierdie maklike, moeitelose ontbyt!

SUPERHELD Souttert in ‘n japtrap (genoeg vir ‘n gesin van 4)

Voorverhit die oond na 180°C.

Bestanddele:

  • 2 snye brood (wit of bruin)
  • 1 koppie melk
  • 1 eetlepel botter of margarine
  • 3 eiers (geklits)
  • 1 koppie gerasperde kaas
  • 1 gerasperde ui
  • 1 pakkie spek (opgesny in klein deeltjies)
  • Pappa se gunsteling groente (sampioene, soetrissie en gesnipperde spinasie werk lekker)
  • Sout, peper en speserye van jou keuse
  • Oondvaste bak, liggies met kleefvrye sproei bespuit

Metode:

  1. Braai die spek en uie. Voeg die groente by en braai tot sag.
  2. Gebruik ‘n pot en kook die melk, 2 snye brood en botter stadig saam, tot ‘n sagte pasta vorm.
  3. Voeg die groentemengsel, eiers, en kaas by die melkmengsel en meng goed.
  4. Geur volgens smaak met sout, peper en speserye (probeer knoffel sout, gemengde kruie en paprika). Onthou dat spek reeds souterig is.
  5. Gooi in die oondvaste bak (van die kaas kan bo-oor ook gesprinkel word) en bak vir 30 minute of totdat die beslag gestol het en die tert ‘n goudbruin kleur is.
  6. Bedien met roosterbrood, vars vrugte en ‘n lekker koppie koffie!

Geniet die dag saam met jou Pa en sê vir hom presies hoekom hy so spesiaal is vir julle en dat hy opreg waardeer word!

 

Afrikaans