My seuntjie glo vas sy pappa alles kan regmaak! Ek vind dit wonderlik hoe onskuldig en groot kinderlike geloof is. Van ‘n swaai wat ons herstel tot ‘n dooie gogga - daar is niks wat pappa nie kan regmaak nie (volgens kleine Christof)!
Dit is ook vir hom die heerlikste heerlik om saam met pappa iets reg te maak en sy plastiek gereedskapstel is een van die beste geskenke wat ek nog vir hom gekry het.
Ouer kinders sal hierdie bietjie meer geniet en die jonger kinders mag dalk bietjie meer hulp benodig. Die idee is om dit te geniet saam met jou kind!
Klein kinders se aandag kan maklik afgelei word, daarom het ek dit goed gedink om elke nou en dan iets ekstra (oor die 3 dae wat ons geneem het om die projek te voltooi) te doen.
Dag 1
Eerstens het ons meer geleer oor oor gereedskap deur hierdie video. Ons het ons fynmotoriese vaardighede ingeskerp toe ons die prentjies, beskikbaar in Engels en Afrikaans) uitgedruk het en Christof dit ingekleur het. Daarna het ons die prentjies uitgeknip en eenkant gesit.
Dag 2
Ek het die bladsye afgelaai en gelamineer (indien jy nie toegang tot ‘n lamineerder het nie, werk dit net so goed om die bladsy in ‘n “flip file” sakkie te sit). Ons het met klei gereedskap gebou en gesels oor veiligheid as jy met gereedskap werk: dat dit kan gevaarlik wees en jy en die rondom jou kan baie seer kry as daar ‘n ongeluk is. (Die konsep was veral vasgelê toe pappa sy vinger met ‘n slyper oopgesny het!)
Ons het die kleimat aktiwiteitsbladsye beskikbaar in Engels en Afrikaans.
Dag 3
Hierdie projek is geskik vir 2 tot oud: my 3-jarige het baie hulp nodig gehad en dit het ons ‘n paar dae besig gehou, maar ouer kinders sal die projek vinniger en met minder hulp kan afhandel.
Benodighede:
- Uitgedrukte bladsy van gereedskap ( beskikbaar in Engels en Afrikaans)
- Patroon vir die oorpak (laai dit hier af)
- 3 Kartonbladsye van verskillende kleure
- Bruin papiersak/ Boks (maak seker dat die boks vooraf toegeplak is OF dat die deksel bo-op is sodat julle die lekkernye daarin kan sit)
- 3 Knope
- Gom (Glue stick of Pritt, houtlym)
- Inkleurbenodighede
- Liniaal
- Skêr
- Potlood
- Uitveër
- Wet Wipes
- Pappa se gunsteling lekkergoed
- Nutsmessie om die boks te sny
Metode:
- Indien julle dit nog nie gedoen het nie, druk die prentjies van die gereedskap uit en kleur dit in. Knip dit uit en hou eenkant.
- Plak een kleur papier op die sak/boks om die “hemp” voor te stel.
- Maak seker dat die oorpak se patroon (wat julle uit gekleurde karton sal knip) sal pas op julle sak of boks. Julle kan die patroon van die oorpak uitdruk in die grootte wat julle nodig het OF dit versigtig oorteken en dan uitknip.
- Plak die gekleurde oorpak patroon bo-oor die hemp op jou sak of boks.
- As julle 'n boks gebruik, kan Mamma 'n gaatjie in die bokant sny (as julle boks nie reeds 'n opening het nie) waar julle die lekkernye kan in sit.
- Druk en plak of skryf die woorde “Pappa maak dit reg” op die oorpak se sak.
- Druk en plak of skryf die woorde “Gelukkig Vadersdag” op die agterkant.
- Plak eers die agterste knoop met gom van jou keuse (ons het houtlym gebruik).
- Wag tot die gom van die eerste knoop droog is en plak dan voorste knope.
- Versier jou boks op enige manier om dit meer aantreklik te maak (ons het van on sou “scrapbooking” goed gebruik).
- Laastens word die lekkers in die pakkie gegooi.
ALTERNATIEF:
Hierdie projek kan maklik as ‘n kaartjie ook gemaak word.
Ons hoop julle geniet Vadersdag terdeë en dat Pappa ekstra spesiaal sal voel.
Sterna (33) is die mamma van woelige klein Christof (3). Sy is met Casper getroud, bly in Roodepoort, het ‘n graad in Bemarkings Bestuur en werk voltyds.
Comments are closed.