Jun 01

Wenke vir die verkoue-seisoen

Deur Dr Martie Conradie, MBChB (UP), Diploma in Child Health (SA)

Koue weer, sneesdoekies en sniffels...dit is weer daardie tyd van die jaar!

Nies of hoes jou kind nou of word daar gekla van ‘n seer keel? Elke ouer was al daardeur. Deesdae moet ons ook oorweeg of dit dalk die koronavirus kan wees, maar gelukkig is die mees algemene virusse nogsteed dié wat net to gewone verkoue lei.

‘n Gewone verkoue word ook ‘n virale boonste lugweginfeksie genoem en dit is een van die mees algemene kondisies in kinders. Meeste voorskoolse kinders sal tussen 6 en 8 verkoues ‘n jaar kry en dié wat in kleuterskole is, kry selfs meer as 10 keer ‘n jaar so infeksie. Dit is darem bietjie minder algemeen in ouer kinders.

Gelukkig is daar nogal baie wat jy kan doen om simptome te verminder of selfs om te voorkom dat jou kind weer siek raak.

Verkoue of griep?

Hierdie twee kondisies deel baie simptome en dit kan moeilik wees om te onderskei. Dit is albei siektes van die lugweg, maar word deur verskillende virusse veroorsaak.

Die gewone verkoue word veroorsaak deur enige een van meer as 200 virusse wat die wand van jou neus en keel irriteer en inflammasie veroorsaak. Rinovirusse is die mees algemene sondebok. Simptome sluit ‘n loperige neus, rooi oë, nieserigheid, droë hoes, kopseer en seer keel in. Minder algemeen kan dit ook lei tot ‘n effense koors en lyfseer. ‘n Kind met ‘n verkoue eet en speel gewoonlik nogsteeds goed. ‘n Verkoue begin gewoonlik geleidelik oor ‘n dag of twee en vorder tot slym dik raak. Dit gebeur gewoonlik net voor mens beter begin voel. ‘n Verkoue hou gewoonlik aan vir ‘n week or twee en dan, selfs al behandel jy dit nie, raak jy beter al kan mens se neus nogsteeds vir ‘n ruk loperig bly en post-nasale drip simptome mens veral in die aand, pla.

Griep, aan die ander hand, word veroorsaak deur die influenza virusse en simptome tref mens gewoonlik skielik. Kindertjies voel gewoonlik slegter as hulle griep het as wanneer dit net ‘n verkoue is en simptome soos lyfseer en koors (of kouekoors) is meer algemeen.

Hoe steek verkoue aan?

Die virusse kan versprei deur die lug of deur direkte kontak.

As iemand wat verkoue het nies of hoes, versprei die virus deur die lug en as jy dit inasem, gaan sit die virus vas aan die membrane van jou lugweg.

Kinders, veral, versprei maklik verkoue-veroorsakende virusse omdat hulle baie aan hulle neuse, monde en oë vat en dan vat aan mense of speelgoed.

Kan verkoues voorkom word?

Cleaning surfaces, sanitising and washing hands are very important to curb the spread of viruses, especially in daycare settings.

Probeer om mense te vermy wat verkoue het en leer kinders om hulle monde toe te hou as hulle hoes.

Gesonde eetgewoontes en die neem van ‘n multivitamien kan help om jou kind se immuunstelsel te versterk. Dit is ook belangrik dat kinders aktief is en nie bloodgestel word aan rook nie.

Huidiglik is daar nie behandeling wat mens kan neem om verkoues te keer nie en geen inenting gaan elkeen van meer as 200 virusse kan keer nie, maar dit is nogtans belangrik om ‘n griepinspuiting te kry aangesien griep ernstiger komplikasies as ‘n verkoue kan hê.

Hoe kan mens verkoue by die huis behandel?

Behalwe in pasgebore babatjies en kinders met immuunstelselonderdrukkende siektes, is verkoues in gesonde kinders nie gevaarlik nie.

Daar is nie ‘n spesifieke toets wat mens moet doen vir ‘n gewone verkoue nie en ook geen spesifieke behandeling wat die virus doodmaak nie, maar die simptome gaan gewoonlik vanself weg binne ‘n week of twee. Daar is wel ‘n paar dinge wat jy vir jou kinders (of jouself) kan doen om die simptome te verbeter:

  • Maak seker jou kinders kry genoeg slaap en is gemaklik. Hou hulle by die huis totdat hulle beter voel. Dit sal ook help dat hulle nie die virus verder versprei nie.
  • Drink genoeg vloeistof – drankies soos water en rooibostee is goed. As kinders nie regtig wil drink nie, is dit nogsteeds belangrik om hulle te motiveer en mens kan rehidrasie oplossings ook gee as hulle te min drink.
  • Oor-die-toonbank medikasie soos parasetamol kan gebruik word vir koors of om hulle beter te laat voel (moet nooit vir ‘n kind medikasie gee wat aspirien bevat nie aangesien dit Reye’s sindroom kan veroorsaak)
  • Moenie medikasie uit jou kas uit gee wat ‘n dokter dalk ‘n vorige keer voorgeskryf het nie. Kortikosteroïedes word gereeld so misbruik en kan lei tot newe effekte later in jou kind se lewe.
  • Dekongestante neussproeie moet verkieslik nie vir langer as 3 dae aanmekaar gegee word nie, want dit kan lei tot swelling van membrane wat dan ook die simptome vererger.
  • Gebruik slegs antihistamienmedikasie as daar allergene soos stof of kathare is wat die simptome dalk vererger.
  • Hou die neusgange oop – gewone soutwater (saline) oplossings werk goed. Slymvliese hou baie van soutwater en dit help om die slym loperig te hou asook om die membrane gesond te maak. Gebruik ook ‘n toestel wat die neusgange van kleintjies kan oopsuig om hulle makliker te laat asem haal.
  • As jou kind ouer is as 1 jaar, kan jy eerder ‘n paar keer ‘n dag heuning gee in plaas van om ‘n hoesstroop te gebruik. Dit is veiliger en in baie gevalle selfs meer effektief. Gooi dit sommer in ‘n bietjie rooibostee (in kindertjies onder ‘n jaar vermei mens gewoonlik heuning as gevolg van die kans om botulisme te kry)
  • Gebruik ‘n lugbevogtiger (humidifier) met hipertoniese soutoplossing indien nodig om neusgange oop te kry. Gebruik slegs kortikosteroïedes as ‘n dokter dit voorskryf.
  • As ‘n kindjie se neus rooi en seer raak van al die afvee, gebruik ‘n bietjie petroleum jellie op die seer area.

Wanneer moet ek my kind dokter toe vat?

Pasgeborenes of babatjies onder ‘n jaar moet verkieslik vroeër dokter toe gevat word, veral as hulle sukkel om te drink of swak is. Neem jou kind ook dokter toe as jou kind die volgende simptome het:

  • Koors van >38˚C vir meer as 2 dae wat nie beter raak na parasetamol of ibuprofen nie of wanneer daar een episode van ‘n koors van >40˚C is (babatjies van jonger as 3 maande moet eerder dokter toe geneem word sodra daar koors van >38˚C is)
  • Erge lomerigheid of lusteloosheid
  • Wil niks eet of drink nie
  • Is kort van asem

Gewoonlik gaan die simptome van verkoue weg na 2 weke, maar as dit aanhou of erger raak, vat jou kind eerder dokter toe. Partykeer begin dit as ‘n verkoue, maar gaan dan oor na ander infeksies soos longinfeksie of oorontsteking.

Mag julle almal warm en gesond bly hierdie winter.

Afrikaans

KOEKIESBELEID

We use cookies so that you may have a better online experience with us.

To view our cookie policy click here.

Please note that by viewing our website, you accept our use of cookies.