Nov 13

10 Dissipline reëls wat jou lewe kan verander

  • Wees konsekwent

Jou huisreëls gaan net krag hê as dit deurlopend toegepas word. Wat vandag geld, moet more ook geld.

  • Stel duidelike grense

Jou kind moet presies weet wat aanvaarbaar en toelaatbaar is en wat nie. Kies die dinge wat vir jou sie belangrikste is, en hou daarby. Die grense sal verskil van huis tot huis. Jou kind moet weet wat die grense is.

  • Gee keuses met gevolge

Jou kind moet leer dat sekere gedrag sekere gevolge het. Die minder lekker gevolge word veroorsaak deur sy eie gedrag. Moenie wag tot die swak gedrag kop uitsteek voordat jy die gevolge begin verduidelik nie. Julle moet in kalm tye daaroor gesels, en jy moet jou standpunt duidelik maak.

  • Onderskei tussen die kind en die gedrag

Wanneer jou kind iets stouts of verkeerds doen, moet jy oppas om ‘n etiket om sy nek te hang, want ‘n kind kan maklik afgekraak voel en sy selfbeeld kan ‘n kou kry. Sê vir hulle wat hulle verkeerd gedoen het, hoekom dit verkeerd was en wat nou gaan gebeur, sonder om te maak asof die daad deel van hulle persoonlikheid is.

  • Praat sodat hulle jou verstaan

Wanneer jy reëls en grense instel, moet jy dit nie in die hitte van die oomblik doen nie. Jy moet die reëls en grense, en die redes daarvoor, rustig en kalm aan jou kind kommunikeer, op ‘n vlak wat vir hulle verstaanbaar is. Gee hulle ook kans om vrae te vra. Vra hulle om dit weer aan jou terug te verduidelik. So sal jy seker wees hulle verstaan.

  • Hou die toekoms in gedagte

Soms reageer jy vining en skerp op iets verkeerds, en ander kere sien jy dit maar oor. Probeer om jou eie emosionele toestand apart te hou van hoe jy dissiplineer. Hou die groter prentjie in gedagte. Met elke daad van jou kind af, leer jou kind iets en bou jy aan die mens wat hulle eendag gaan wees. Dink langtermyn… wat verrig jy as jy nou wild skree en skel? En waste boodskap gee jy jou kind as jy te moeg is om hulle te dissiplineer?

  • Moenie uitstel nie

Om goeie gedrag te versterk en swak gedra te ontmoedig, moet jy dadelik op die gedrag reageer deur ‘n gepaste belonging of gepaste starf. Moenie wag tot vanaand nie, of dreig dat pa later gaan straf nie. Teen vanaand het jou kind al vergeet wat hulle vanoggend verkeerd gedoen het.

  • Vang hulle iets goeds doen

Jou kind soek eintlik regtig jou goedkeuring, maar weet ook nie altyd hoe om dit te kry nie. As jy jou kind prys vir wat hulle reg gedoen het, gaan hy dit beslis weer doen. Positiewe terugvoer kan wondere verrig, veral as jy voel dat jy altyd aan die baklei is.

  • Wees realisties

Weet jy wat tipiese gedrag vir ‘n eenjarige is? As jy ‘n dissipline-probleem het, is die oorsaak moontlik heel eenvoudig dat jou verwagtinge onrealisties is. Sorg dat jy ingelig is oor wanneer ‘n kind wat kan doen, en hoe hulle breintjie werk en ontwikkel.

  • Beplan en voorkom

‘n Geroetineerde gesinslewe maak dissipline makliker. Wanneer hul roetine omver gegooi word, kan hulle moeg, honger en prikkelbaar raak. Onthou, jou kinders het nie beheer daaroor nie, en dan begin hul gedrag agteruit gaan. Dis die ouers se werk om roetine in te stel, en ook dinge makliker te maak wanneer ‘n roetine nie moontlik is nie. Neem altyd iets te ete en drinke saam as julle lank van die huis gaan weg wees, en beplan jou dinge so dat jou kind hulle slaap kan inkry.

Bron: Baba en Kleuter

Afrikaans

KOEKIESBELEID

We use cookies so that you may have a better online experience with us.

To view our cookie policy click here.

Please note that by viewing our website, you accept our use of cookies.